Dis ’n daaglikse stryd om hom net vir ’n uur te laat stilsit en sy aandag op sy huiswerk toe te spits. Sy gedagtes dwaal gedurig af en hy is so kriewelrig en vol energie dat dit vir Ruane Beugger (13) baie moeilik is om te sit en konsentreer.

Dit maak huiswerk en leer vir hom en sy ouers, Deon en Tia, besonder moeilik.

“Ons het nou al ’n huiswerkstrategie bedink. As hy baie kriewelrig raak, vra ek hom om vir my ’n glas water te gaan haal of laat ek hom ’n bietjie buite rondhardloop.

Dit help gewoonlik om van die energie te verbrand,” sê Tia.

Ruane, ’n gr. 8-leerder, se simptome is kenmerkend van iemand met aandaggebrek-hiperaktiwiteitsteuring (AGHS). Hy is hiperaktief, sy aandag word maklik afgelei, hy vergeet maklik, skakel gedurig van die een aktiwiteit na die ander oor, word ná net ’n paarminute verveeld met ’n taak en sukkel om aanwysings te volg.

Hoewel hy in ’n stadium tussen 80 en 90 persent in wiskunde behaal het, waaroor hy baie erg is, sê Tia hy het in die laaste ruk probleme by die skool ervaar wat hulle laat besluit het om eerder oor te skakel na tuisonderrig. “Die laaste ruk het ons net gefokus op deurkom. As ons met tuisonderrig begin, sal ons weer van voor af moeite doen met Wiskunde.”

Ruane se situasie is ’n groter uitdaging omdat hy lid is van ’n gesin van vier wat almal aan AGHS ly. Om gefokus te bly moet hulle ’n kennisgewingbord in hul huis hê, gedurig aan goed herinner word en kos eet wat nie die simptome van AGHS vererger nie.

Tia sê dit verg beplanning om die kinders suksesvol deur hul skoolloopbaan te kry. Ruane se ouer sussie Danielle (19) het pas klaar gemaak met skool en wil graag Grafiese Ontwerp studeer, maar sy staar soortgelyke uitdagings as Ruane in die gesig en fokus nou eers op ’n aanlyn kursus in bestuurswese. Sy het ook ’n kursus in die sagteware Photoshop suksesvol voltooi.

Nicole Dickson is ’n ma, ’n terapeut en die Oos-Randse taksameroeper van AGHSSA (AGHS-steungroep van Suid-Afrika). Sy sê kinders wat met AGHS saamleef, het veral struktuur nodig en stem saam met Tia en Deon se metodes.

“Struktuur beteken tasbare, praktiese hulpmiddels soos lyste, herinnerings, eenvoudige liasseerstelsels, dagboeke, doelwitte en daaglikse beplanning. Hulle kan die innerlike chaos van ’n lewe met AGHS baie verminder, en verbeter produktiwiteit en die kind se gevoel van beheer,” beaam Tia.

Hier is haar en Nicole se wenke oor hoe ouers en onderwysers ’n kind met AGHS kan help presteer.

HELP JOU KIND

By die huis

  • Kry ‘n skool wat werklik jou kind akkommodeer met sy spesifieke behoeftes, veral as daar spesifieke vakke is waarin hy of sy uitblink, sê Tia.
  • Kry ’n kennisgewingbord.
  • Omdat dit vir Tia, Deon en hul kinders uitdagend is om hul aandag by een ding te bepaal, kom ’n kennisgewingbord goed te pas. Hulle gebruik dit om hulle te help om alles van geleenthede en huiswerk tot takies te onthou.
  • Help jou kind met die basiese vaardighede soos lees, skryf en eenvoudige wiskunde, want dit sal hul selfvertroue ’n hupstoot gee. “Ons het Ruane leer lees deur vir hom die goed te gee wat hy graag lees. Ek sê: Solank hy leer, maak dit nie saak of hy Star Wars of strokies lees nie,” sê Tia.
  • Bepaal hul passie. “Moedig kinders met AGHS aan om vaardighede en belangstellings te ontdek en ontwikkel wat hulle geniet en waarin hulle goed kan vaar,” sê Nicole.
  • Help hulle maklike leermetodes aanleer, soos om breinkaarte te maak, veral op hoërskool.
  • Die regte studieruimte is belangrik. Dit moet netjies wees en geen afleidings bevat nie; dus nie die eetkamertafel nie. Kry ’n blaaibord waarop hulle aantekeninge kan maak. Dis nog beter as die kind kan opstaan en op die bord gaan skryf: Dit help hulle aan die beweeg kry.
  • Moenie jou bekommer wanneer jou kind beweeg nie. Baie mense leer beter as hulle beweeg; dit beteken nie dat hulle nie konsentreer nie. Laat hulle op ’n bal sit of heen en weer loop terwyl hulle hul leerwerk opsê.

By die skool

  • Kry ’n maat. “Vra die skool of hulle jou kind met AGHS langs ’n rustiger kind kan laat sit, iemand wat verantwoordelik is en selfs kan help kyk dat hulle hul huiswerk neerskryf,” sê Tia. Sy sê dit het Ruane gehelp.
  • Vind uit wat jou kind se grootste behoeftes is en aanvaar dié wat nie ’n groot probleem is nie.
  • Laat hulle van oortollige energie ontslae raak. Vra die onderwysers moet jou kind takies gee wanneer hy kriewelrig raak, soos om vir ’n ander onderwyser ’n boodskap te neem, stel Tia voor.
  • Kom aan die gang. Sport sal die kinders van oortollige energie help ontslae raak en bied ook ’n lekker plek om maats te maak. Een-tot-een-sport, gevegskuns en joga is goeie keuses.

EMOSIONELE STEUN

  • Wees buigsaam. “Dis belangrik dat ons bereid moet wees om ons sienswyse van dink en leer te verander, pleks dat ons verwag ons kinders wat met AGHS worstel, moet konformeer en goed aanleer wat hulle nie help nie,” sê Nicole.
  • Bou ’n hegte verhouding met jou kind sodat hy die vertroue het om vir jou te sê wanneer hy sukkel sodat jy hom kan help.
  • Help hulle ontspan. ’n Mens sê dikwels vir kinders hulle moet meer doen, maar jy moet net soveel tyd daaraan bestee om hulle te leer om agteroor te sit, hul lyf en verstand te laat ontspan en af te skakel. As hulle dit kan doen, sal hulle beter konsentreer sodra hulle weer “aanskakel”.
  • Let op afknouery. Kinders met AGHS is soms meer geneig om die slagoffer van ’n bullebak te word.
  • Wen hul vertroue. “Mense met AGHS is meer gevoelig vir hoe ander mense hulle behandel, en hulle moet weet die onderwyser sal hulle nie verneder oor werk waarmee hulle sukkel of wanneer hulle nie kan konsentreer nie. Sodra hulle die onderwyser en versorger vertrou, sal dit beter gaan,” sê Tia.

DIE REGTE KOS

  • Kos kan ’n groot rol speel in die bestuur van AGHS.
  • Bly weg van kos met kleurmiddels, gaskoeldrank en gemorskos, want dit kan hiperaktiwiteit vererger.
  • Die laer glisemiese indeks (GI) van kos met proteïen help AGHS-lyers langer konsentreer.
  • Behou ’n hoë vlak van omega-3, -6 en -9. “Dis noodsaaklik vir die werking van die brein. Daarsonder kan jy nie funksioneer nie,” sê Tia. Nog bronne is vetterige vis soos salm, rou neute (maar nie grondbone nie), olyfolie en avokado’s.
  • Hou ’n kosdagboek om te kyk of daar “snellerkosse” is wat jou kind se simptome erger maak, soos suiker en preserveermiddels.Elke kind se reaksie is uniek, en dit sal jou help agterkom watter kosse jy moet vermy.

Tia en Deon Beugger is vasbeslote om vir Ruane en Danielle akademies te help uitblink, ten spyte van uitdagings.

HET JY GEWEET?

Leonardo da Vinci, Alexander Bell, Albert Einstein, Beethoven, Mozart en Walt

Disney is maar ’n paar van die uitblinkers wat glo met die simptome van AGHS

saamgeleef het.

-Dalena Theron