Hoe dan gemaak wanneer jou kind slegte punte kry en jy weet hy of sy kan eintlik beter?

CP de Jager, ’n opvoedkundige en voorligting sielkundige van Vanderbijlpark, sê ouers moet eers onderskei tussen leerprobleme en studieprobleme. “Leerprobleme is iets wat voorkom by hiperaktiewe kinders en kinders met aandagafleibaarheid; dis kinders wat sukkel om te konsentreer. Studieprobleme kan ’n reeks onderliggende oorsake hê wat eers aandag moet kry voor jy die kind se studiemetodes kan aanpas of hom ekstra klasse laat neem.”

Studieprobleme is volgens hom baie algemener as leerprobleme en hy sê dit is belangrik dat ouers vroeg ingryp wanneer ’n kind begin onderpresteer. “Dit kan ’n bose kringloop tot gevolg hê wanneer die punte lei tot ’n lae selfbeeld, die kind slegter vaar hoe meer druk daar van die ouers kom, en later moed opgee en hom oorgee aan algemene slegte gedrag en ’n gebrek aan dissipline.”

Oorsake

CP sê dis maar net sommige van die faktore wat kan veroorsaak dat jou kind studieprobleme het:

-         ’n Moeilike oorgang van laer- na hoërskool.

-         Spanning en/of depressie.

-         ’n Negatiewe houding teenoor die skool.

-         Drank en dwelmmisbruik (tieners).

-         Probleme tuis, soos ’n egskeiding, ’n gebrek aan studieruimte, gebrek aan dissipline of drankmisbruik by die ouers.

-         Verkeerde vakkeuses.

-         Groot klasse en min aandag van die onderwyser.

Wat kan jy doen?

As jou kind sukkel met leerprobleme, is dit beter om hulp te kry by ’n opvoedkundige sielkundige wat óf medikasie óf praktiese oplossings en oefeninge kan gee. As jou kind sukkel met studieprobleme, kan ’n opvoedkundige sielkundige help met studiemetodes en aanlegtoetse, maar hierdie wenke is ’n goeie begin:

Ken die onderwysers.

Woon skoolgeleenthede, soos oueraand, by om jou kind se onderwysers te ontmoet. Vra oor hul huiswerk benadering en hoe betrokke hulle wil hê jy moet wees. So sal jy waarskynlik ook nog inligting kry oor hoe jou kind in die klas optree en of daar dalk gedrag of probleme is waarvan jy onbewus was.

Hou by ’n vaste roetine.

Skep tyd vir jou kind om te leer en huiswerk te doen en maak seker dat dit toegepas word en dat jy byderhand is as hulle hulp nodig het.

Maak ’n studieplek beskikbaar. Die kombuistafel, waar ’n jonger boetie of sussie geraas maak, is onvanpas. Kies ’n plek waar daar min dinge is om sy of haar aandag af te lei.

Help hulle om planne te maak. Is daar iets spesifieks waarmee jou kind sukkel, soos ’n taak wat te groot lyk? Help hom deur voorstelle te maak of aan oplossings te dink, maar maak seker jou kind doen dit self. Navorsing het al getoon ouers wat meer klem plaas op hoe belangrik dit is om aan te hou probeer as hoe goed jy vaar, kry beter resultate.

Bly positief. Dis maklik vir ’n kind wat sukkel om goed te vaar om na ’n mislukking te voel en moed op te gee. Maar as jy opgeruimd bly, is daar iemand wat in hom glo en sal dit hom motiveer om te volhard.

Stop die kringloop

As jy al alles probeer het, kry professionele hulp, maar maak seker jy gaan na die regte plek. “’n Maatskaplike werker kan raad gee oor gesinsprobleme, terwyl ’n opvoedkundige sielkundige aanlegtoetse kan doen en ’n ontleding wat sal kyk na studiemetodes en gewoontes sowel as faktore in die gesin en by die skool wat dalk ’n uitwerking kan hê,” sê CP.

EKSTRA BRONNE: kidshealth.org, ted.com