’n Oortrom wat geskeur het, word ook ’n geperforeerde oortrom genoem. Dit kan ’n skrikwekkende ervaring wees weens die skerp pyn en skielike gehoorverlies.

Oorsake:

1. Middeloorinfeksie, veral by kinders. Dit gebeur wanneer druk en vog agter die oortrom opbou tot dit bars. Vog lek gewoonlik uit die oorkanaal.

2. Verandering in omgewingsdruk, bv. tydens ’n vlug of wanneer onderwater geduik word.

3. ’n Harde hou direk op die oor, of ’n ontploffing of geweerskoot naby die oor.

4. ’n Direkte besering met byvoorbeeld ’n oorstokkie.

Simptome:

1. ’n Skielike pyn in die oor en gedempte gehoor met ’n gepaardgaande gedruis.

2. Vog lek uit die oor en duiseligheid kan voorkom. Die meeste perforasies groei op hul eie toe sonder spesifieke behandeling. Die gehoor keer gewoonlik vinnig terug na normaal. Dit is tog ’n goeie idee dat ’n dokter die oortrom ondersoek om die presiese skade te bepaal.

Behandeling:

1. Die oor moet te alle tye droog gehou word. Antibiotiese druppels word voorgeskryf as infeksie vermoed word.

2. Die oortrom genees gewoonlik binne agt weke, so nie is chirurgiese hulp nodig.

3. Aanhoudende gehoorverlies en duiseligheid kan skade aan die middel- of binneoor beteken. Laat ’n spesialis dit evalueer.

Dr Adelaide