.

“Alle aknee word hormonaal vervaardig,” sê dr. Ian Webster, ’n dermatoloog van Kaapstad. “Met puberteit begin meisies en seuns se liggame die manlike hormoon testosteroon vervaardig. Dit veroorsaak olierigheid op die vel, swartkoppies, witkoppies en puisies.”

Baie mense dink dis deel van grootword, maar aknee kan permanente littekens veroorsaak as dit nie behandel word nie, sê dr.  Mahendran Moodley, ’n dermatoloog by die Christiaan Barnard-gedenkhospitaal in Kaapstad. “Dis belangrik om vroeg reeds mediese behandeling te kry, al is die voorkoms van aknee gering. Behalwe vir littekens kan aknee ook ernstige sielkundige gevolge hê, soos ’n swak selfbeeld, en in uiterste gevalle, depressie of selfdood.”

Hier is raad om jou tiener teen aknee te help baklei:

’n Gesonde velsorgroetine

“Om te help om jou vel gesond te hou, moet jy dit minstens twee keer per dag met ’n sagwerkende afskilferende gesigwasmiddel reinig,” sê Mahendran.

“Oor-die-toonbank wasmiddels wat bensoïelperoksied, salisiel- en melksuur bevat, kan help met geringe gevalle van aknee.”

Ian sê tesame met reininging met ’n sagwerkende reiniger, moet tieners ’n antibakteriële jel soos Benzac AC 5 op individuele puisies aanwend vir behandeling. “Ek sou nie growwe reinigers en skropmiddels aanbeveel nie omdat dit dikwels die vel irriteer,” sê hy. “Baie tieners maak die fout om die aknee te probeer wegskrop.

“As die tiener ’n sensitiewer vel het, sou ek ’n reiniger met ’n roombasis soos Cetaphil Gentle Cleanser aanbeveel. As hulle ’n taaier, olieriger vel het, sou ek ’n reiniger wat effens skuim, soos Cetaphil Cleanser for Oily Skin, aanbeveel.”

Tieners wat af en toe ’n puisie kry, moet dit nie uitdruk nie. Dit kan lei tot littekens en pigmentasie, waarsku Mahendran. “Skoonheidsmiddels, olierige sonskerm en haarprodukte kan aknee vererger. Dit moet vermy word,” sê hy.

Speel dieet ’n rol? 

Daar word dikwels gesê dat gemorskos en sjokolade puisies veroorsaak, maar daar is nog nie duidelikheid oor die verhouding tussen kos en aknee nie. “Maar ’n dieet met ’n hoë glukemiese indeks word verbind met aknee wat vererger,” sê Mahendran.

“Daar is ook ’n postiewe verband tussen melk en ’n groot voorkoms van en ernstige aknee. Ander verbindings tussen aknee en sjokolade en sout word nie deur bewyse ondersteun nie.”

Aknee-behandeling:

Daar is nie ’n “kuur” vir aknee nie, sê Mahendran, maar dié beskikbare behandelings kan die vorming van nuwe puisies en littekens voorkoms. Dit sluit in:

  • Topikale behandleing – Dit word direk aan die vel gewend en is gewoonlik die eerste keuse vir diegene met geringe tot matige aknee.
  • Mondelingse antibiotika – Dit word gebruik om matige aknee te behandel saam met ’n geskikte topikale behandeling.
  • Die Pil – Orale voorbehoedmideels kan meisies help wat sukkel met aknee.
  • Isotretinoïen (medikasie soos Roaccutane en Oratane) – dis ’n kragtige en uiters doeltreffende behandeling vir ernstige aknee. Maar wees gewaarsku dat dit verskeie newe-effekte kan hê, en dit moet slegs onder die toesig van ’n dermatoloog voorgeskryf word, sê Mahendran. “Dermatoloë is opgelei om te weet watter soort aknee reageer die beste op hierdie behandeling, en hoe om die newe-effekte te hanteer.”
  • Isotretinoïen is gewoonlik ’n medikasie wat vir ses maande gebruik moet word. “Met die regte dosis, vir die regte hoeveelheid tyd, is daar ’n sowat 85 persent kans dat die tiener van sy of haar aknee genees sal word,” sê Ian.

-Petro-Anne Vlok

Foto: Kizzzbeth on Flickr