Sommige kinders wat op skool afgeknou word oor hul gewig, ontgroei die ekstra kilo’s en die emosionele letsels, en word eindelik gesonde, gelukkige volwassenes.

Ander, soos die 17-jarige Erik du Preez van Pretoria, is minder gelukkig.

Erik was ’n talentvolle seun wat daarvan gedroom het om ’n sielkundige te word, maar hy het deurgeloop onder skoolkinders se aanmerkings oor sy gewig.

Hy het die afgelope week sy eie lewe geneem, waarna sy ma ook hare geneem het toe sy van die tragiese gebeure hoor.

Jou oorgewig kind se selfbeeld kan ernstig geskend word as hy of sy gespot word oor sy gewig.

Daarom is dit belangrik dat ’n mens die probleem erken en werk maak daarvan, sê Kerry Lynn Sparrow, ’n maatskaplike werker van Johannesburg.

Hier is haar wenke wat jou oorgewig kind kan help.

Hoe knoop ek ’n gesprek aan?

“Laat die regte persoon die gesprek aanknoop,” sê Kerry Lynn.

As die kind besonder naby is aan een van sy ouers, sal dit beter wees as dié ouer met hom of haar gaan praat.

“Gewig is ’n teer saak en so iemand moet sensitief wees.”

Dikwels is dit goed as ’n ouer of persoon van dieselfde geslag met die kind praat omdat kommentaar van iemand van die teenoorgestelde geslag vernederend kan wees, veral vir ’n tiener.

“Pleks dat jy wegval met jou kind se gewig, begin liewer gesels oor gesondheid.”

Hy stel voor ’n mens moet sê: “Ek is bekommerd oor jou gesondheid; dink jy nie ons moet iets daaraan doen nie?”

As jou kind al ’n tiener is, kan jy hom by die probleemoplossing betrek.

“Vra jou kind hoe sy sal wil hê haar ouers moet help, en wat sy dink die beste benadering sal wees.”

Betrek die gesin:

“Wanneer ’n kind oorgewig is, is die res van die gesin se eetgewoontes dikwels ook nie besonder gesond nie,” sê Kerry Lynn.

’n Sensitiewe benadering tot jou kind se gewigsprobleem, is om almal in die gesin betrokke te kry.

“Dan sal dit nie vir jou kind voel asof jy hom uitsonder nie.”

Stel voor dat die gesin saam begin stap en fiks word, en pas die hele gesin se eetgewoontes aan.

Kry die feite:

’n Mens moet vasstel of daar nie ’n mediese rede agter ’n kind se gewigsprobleem sit nie.

As jy bekommerd is oor jou kind se gewig, raadpleeg ’n dokter en vind uit of skildklier- of hormoonprobleme byvoorbeeld ’n rol speel.

Kry kundige raad:

“Sielkundige hulp kan baie nuttig wees, nie net vir die kind nie; ook vir die ouers.”

Kerry Lynn sê iemand wat opgelei is om met gewigs- en selfbeeldprobleme te werk, kan die regte raad en leiding gee.

Jou kind sal dalk ook veiliger en minder ongemaklik voel as hy die probleem met ’n buitestander kan bespreek.

“Ouers kan ook baat vind by terapie. Vind uit by ’n sielkundige hoe jy jou kind kan help en watter stappe jy as ouer moet doen.”

Volg dié skakels vir gesonde eetplanne vir jou kinders: