Ek gee onderwys in Afrikaans as eerste bykomende taal – dit was voorheen bekend as tweede taal. Hoewel dit beteken my wenke is meer toepaslik vir hierdie leerders, kan dit ook nuttig wees vir moedertaalsprekers.

Hier is ’n paar nuttige wenke oor huiswerk vir ouers:

  1. Die belangrikste is dat jy jou kinders hul huiswerk self laat doen – moet dit nie vir hulle doen nie; anders sal hulle nie die inhoud kan gebruik nie.
  2. Maak seker jy verstaan hoe die onderwyser die werk aan die leerders verduidelik het.
  3. Verhang die bordjies: Laat jou kind die metode verduidelik wat die onderwyser gebruik het. Jy sal dan kan sien of jou kind die werk verstaan.
  4. As hy dit nie verstaan nie, probeer die werk op ’n ander manier verduidelik.
  5. As jy met die vak sukkel, vra die onderwyser om raad.

Daar is verskillende wenke wat leerders met verskillende dele van hul huiswerk help. Ons fokus vandeesweek op die begripstoets en volgende week op kreatiewe skryfwerk.

Hoe om met begripstoetse te help

Laat jou kind eers die hele teks lees en dan die vrae. Laat hy die teks weer lees. As die kind nie ’n idee het waaroor dit gaan nie, laat hom weer die vrae lees.

  • Kyk of jy die sleutelwoord in die vraag kan raaksien en soek die woord in die teks.
  • Wanneer jy die antwoord kry, merk die sleutelwoord in die teks en skryf die nommer van die vraag langsaan. Doen dit met al die vrae.
  • Wanneer die leerder by vraag vyf kom, sal hy gewoonlik besef die vrae word chronologies volgens die teks gevra. As jy dus nie vraag vier se antwoord kan kry nie, maar jy weet waar die antwoorde is van vraag drie en vyf, kan jy aanvaar vraag vier se antwoord is tussen die ander twee vrae se gemerkte dele in die teks.
  • Baie belangrik: Moenie net na die sleutelwoord kyk nie. Lees die vrae met wat ook al voor en na die sleutelwoord(e) geskryf is. Leerders moenie net blindelings die hele paragraaf of sin afskryf nie.
  • Kyk na die taak in die vraag: Moet die kind ’n antwoord in sy eie woorde skryf, of ’n woord of frase aanhaal? As die taak nie reg uitgevoer word nie, verloor die leerders punte.
  • As jou kind sukkel met woordeskat in ’n begripstoets, laat hy al die probleemwoorde neerskryf en naslaan in ’n woordeboek. Gebruik ’n verklarende woordeboek vir moedertaalsprekers en ’n tweetalige woordeboek vir die leerders van ’n eerste bykomende taal.

- Marelize Swanepoel

(Marelize Swanepoel gee al agt jaar Afrikaans en is ’n onderwyseres by Welridge Academy in Weltevredenpark, Johannesburg)