Raak jy beangs wanneer jy jou kind vir toetse moet help leer? Of bekommer jy jou oor die sperdatums van projekte en hoeveel ’n sekere punt hul gemiddeld sal beïnvloed? Jou angs en kommer kan jou kind onder druk plaas om die punte te behaal wat jy vir hulle in gedagte het. Ongelukkig kan kinders soms net nie voldoen aan die hoë verwagtinge wat ouers aan hulle stel nie.

Ouers en onderwysers moet realisties wees oor kinders se vermoëns. Reyanah Manuel, ’n gr. 7-onderwyseres aan ’n privaat skool in die Kaap, gee raad.

“My beste raad aan ouers en voogde is, wees daar vir jou kind en wees betrokke van die eerste skooldag af tot die laaste eksamen en projek afgehandel is. Dit moet in gr. R begin en hopelik eindig lank nadat jou kind klaarmaak met universiteit. Om opregte belangstelling in jou kind se skoolloopbaan te toon en nie net te konsentreer op watter eksamens en take voltooi moet word nie, is goed vir sy selfvertroue.

“Die wete dat hul ouers of voogde in alle aspekte van hul skoollewe belangstel, laat die kind ook meer daarin belangstel. Hy kan dan elke dag met selfvertroue vir sy ouers verduidelik wat hy geleer het. So aanvaar die kind verantwoordelikheid, want hy moet eers die werk verstaan voor hy dit aan sy ouers kan verduidelik.

“En weet jy wat? Die ervaring het my geleer dis die beste maar ook die  mees uitgeslape manier om jou kind voortdurend te laat leer, sonder dat julle dit laatnag hoef te doen of wanneer jou kind onder eksamendruk verkeer.

“Deur te verduidelik wat sy geleer het, oefen en slyp die kind begripsvaardighede. Sy moet verstaan voor sy kan verduidelik. Wanneer jy jou kind gesels-gesels uitvra, wys jy dat jy belangstel in haar en toets jy sommer ook sy kennis. Twee vlieë met een klap.

“Sukses in enige eksamen, toets of kamma-eksamen hang af van hoe goed ’n mens die inhoud en opdrag verstaan. ’n Kind kan amper enige taak uitvoer, mits hy weet hoe hy te werk moet gaan en wat van hom verwag word. In ’n klaskamer van 30 of meer leerders sal die onderwyseres haar bes doen om al die vrae te beantwoord. Maar in ’n veranderende onderwysstelsel is dit ook die kind en ouer se plig om tyd vir selfstudie opsy te sit. In vandag se toenemend tegnologiese kultuur is inligting aan ons vingerpunte, mits ons weet hoe om die hulpbronne te gebruik.

“Wanneer ouers opreg in hul kind se lewe belangstel, sal hulle nie in die duister wees of swak toegerus wees om die kind tuis te help nie. Maar dit kan moeilik raak in ’n werkgerigte samelewing waar ouers langer werk en kinders by naskoolse geriewe versorg word. Tog kan ’n paar kort gesprekke oor skoolwerk met ’n kind ’n groot verskil maak.”

Reyanah se raad aan ouers:

  • Moedig jou kind aan om enigiets te lees. Moenie dink      strokiesboeke is onvanpas nie. Tydskrifte, romans en strokiesboeke kweek      almal ’n belangstelling in lees. ’n Kind wat lees en verstaan, behou      kennis langer en kan daardie kennis toepas.
  • Wees self ’n aktiewe leser. Lei deur jou voorbeeld.      Kinders boots hul ouers na. Stel ’n goeie voorbeeld.
  • Hou van wiskunde – en as jy nie daarvan hou nie,      maak of jy daarvan hou. ’n Goeie ingesteldheid jeens wiskunde of enige      ander vak help jou kind dié vak makliker baasraak. Dit kan hom ook die      selfvertroue gee dat hy dit kan bemeester.
  • Wees daar vir jou kind. Bemoedig en motiveer. Jy      voel dalk soms dreigemente is al raad. Soms werk ’n wortel voor haar neus      ook nie. Praat met haar, want daar is gewoonlik ’n onderliggende rede      waarom sy nie belangstel nie.
  • Die beste raad is gewoonlik die eenvoudigste. Jou      kind wil hê jy moet in sy lewe belangstel. Dit laat hom geliefde en      gewaardeerd voel. As jy jou kind koester, verlig dit sy spanning en kan hy      sy doelwitte bereik.