Daar is niks meer ontmoedigend vir ’n ouer as om hul kind se rapport oop te maak en die woorde “voldoen nie aan die vereiste standaard” langs ’n vak of hul kind se totale punt te sien staan nie. Tog is dit ’n werklikheid waardeur baie ouers in die gesig gestaar word wanneer hulle hul kind se rapport kry.

As dit aan die einde van die jaar gebeur, kan dit beteken jou kind moet die graad herhaal, maar in die middel van die jaar is daar nog tyd om te verbeter en die punte in ’n slaag te omskep.

Hier is kennerswenke oor hoe om jou kind akademiese mislukking in sukses te help omskep.

Skep ’n leerkultuur

Dit is nooit te laat om jou kind in te lig wat jou verwagtings is nie,  sê die maatskaplike werker Thuli Bottoman.

“Verduidelik vir hulle dat om huiswerk te doen en tyd aan hul skoolwerk te bestee  hul verantwoordelikheid en ononderhandelbaar is.

“Bepaal ’n sekere tyd wat hulle moet werk, baken ’n duidelike werkplek af en verbied afleidings soos selfone, speletjies en TV kyk,” sê sy.

Ouers moet hul kinders se boeke nagaan om te kyk of hulle hul werk gedoen het. Hulle moet ook vir hul kinders sê hulle is beskikbaar om hulle te help, maar hulle moet hulle vra om hulle te help.

“Wees bestendig met jou reëls. Kinders sal probeer kanse vat om hul verantwoordelikhede te ontduik. As jy die huisreëls wisselvalig toepas, dink watter boodskap jy uitstuur – dat jy nie hul skoolwerk ernstig opneem nie,” maan Thuli.

Wees ’n betrokke ouer

Daar is altyd hulp beskikbaar en ouers moet die inisiatief neem deur met die skoolopvoeders te praat, sê Thuli.

“Maak ’n afspraak met jou kind se onderwysers en vra spesifieke riglyne oor hoe om jou kind met hul huiswerk te help. Dit kan behels lees, die verstaan van  sleutelwoorde sodat hulle weet hoe om eksamenvrae te beantwoord, of die beskikbaarmaking van vorige vraestelle sodat jou kind kan sien hoe die vrae gevra sal word.

“As dit ’n taal is, kan dit beteken jy moet met jou kind in daardie taal praat op ’n tyd wat in die dag vir oefening opsy gesit is.”

Ingryping kan ook insluit om ’n tutor te kry (soos ‘n universiteitstudent of afgetrede onderwyser). “Die betaling van tutors moet as ’n belegging in jou kind te toekoms beskou word. Ouers kan eerder kan eerder op fliek of ander uitstappies inkort as hulle ekstra geld nodig het om vir die onderrig te betaal.

“Wees op die uitkyk vir matrieks of voormalige leerders in jou gebied wat bereid is om teen ’n klein betaling te help,” stel Thuli voor.

Motiveer jou kind om moeite te doen om hul punte te verbeter. “Herinner hulle daaraan dat dit ’n prioriteit is om ’n goeie opvoeding te kry wat ná skool vir hulle beter geleenthede kan moontlik maak.”

’n Beroepsberader (opvoedkundige sielkundige) kan help met ernstiger kwessies soos leerprobleme. “Elke kind is anders. ’n Profiel sal van die kind saamgestel word en die ouers kan dan ’n pasgemaakte program kry om met besondere behoeftes te help.

Die kind se selfvertroue sal verbeter namate hulle die leerprobleem oorwin,” sê die opvoedkundige sielkundige Claire O’Mahony.

Aansporings kan help

Party kinders kan gemotiveer word om daarop te fokus om hul skoolwerk te verbeter deur ’n aansporing, of dit nou innerlik of intrinsiek is, sê die opvoedkundige sielkundige Claire O’Mahony.

“Om ’n ‘lui’ kind te motiveer, kan dit nuttig wees om hul toekoms te bespreek en aan vooruitbeplanning te werk deur te vra: ‘Wat wil jy ná skool doen?’ Stel vas wat die akademiese vereistes is om vir so ’n graad of diploma aanvaar te word,” sê sy.

“Vir party kinders kan ’n beloning soos ’n nuwe fiets, selfoon of uitstappie aan die einde van die jaar die dryfveer wees wat hulle laat harder werk,” sê Thuli.

Vermy vergelykings

Moenie jou kind met ouer broers of susters, klasmaats of vriende vergelyk nie, maan Thuli.

“Dit sal jou kind ontmoedig. Vermy dit om te sê: ‘Kyk na so-en-so, hoekom kan jy nie dieselfde doen nie?’ Ons het nie dieselfde talente nie en daar is ’n verskil tussen intelligensie en harde werk. Moedig jou kind aan om hul bes te doen. Sê eerder: ‘Konsentreer op jou skoolwerk. Jy kan dit doen’.”

Hoe vroeër skoolprobleme aangespreek word, hoe beter. Dit sal stresvlakke verlaag en die druk op jou en jou kind verminder, en kan julle ook nader aan mekaar bring, voeg Thuli by.

Kry hier hulp

Bel die Family Life-sentrum by 011-788-4784 vir berading of om inligting oor ’n sentrum in jou gebied te kry. Vir die kontakbesonderhede van ’n kenner wat met ’n leerprobleem kan help, besoek www.therapistdirectory.co.za