Om jou troeteldiere slank en gesond te hou is een van die belangrikste dinge wat jy vir hulle kan doen.

Minstens die helfte van Suid-Afrikaanse veeartse se pasiënte is oorgewig of vetsugtig, sê dr. Guy Fyvie, die veeartsenykundige raadgewer vir Hill’s Pet Nutrition.

En dit kan lei tot diabetes, lewersiektes, gewrigsprobleme, kanker, verminderde lewensgehalte en ’n korter lewensduur.

As jy al ooit gewig probeer verloor het, sal jy weet dis nie maklik nie. Dieselfde geld vir diere. Hier is dus ’n paar wenke om jou oorgewig troeteldier fiks en slank te kry.

Paws24

  1. Bepaal Kyk na ons nuttige tabel om te sien watter silhoeët jou troeteldier verteenwoordig. As hy of sy oorgewig is, maak ’n afspraak met jou veearts om enige gesondheidsprobleme uit te skakel wat dalk die oortollige gewig veroorsaak, soos ’n skynswangerskap (steriliseer haar) of ’n hormoonprobleem.
  2. Beplan Jou veearts sal ’n verslankingsplan aanbeveel. Sommige veeartse het selfs verslankingsklinieke of -klubs. Petslimmer.co.za het funksies wat die ideale gewig bereken, hope voedingswenke en ’n lys veeartspraktyke wat die Hill’s Pet Slimmer-program gebruik.
  3. Kos Kies die beste gehalte kos wat jy kan bekostig en volg die aanwysings op die verpakking met ’n maatkoppie – moenie raai nie! Voeg groente soos groenbone en pampoen by vir ’n stewiger maaltyd sonder om te veel kalorieë by te voeg. Sny soveel bederfies moontlik uit en vervang dit met vertroeteling, ’n speletjie of vinnige stapsessie.
  4. Oefening Swem is ’n goeie lae-impakoefening vir honde. En om soggens wanneer dit nog koel is of saans te stap, is goeie oefening vir julle albei. Kry ’n flits- of laserlig en kyk hoe jou kat rondspring!
  5. Stadig maar seker Dit neem tyd om oortollige gewig af te skud. Moenie die proses aanjaag nie – skielike gewigsverlies word nie aanbeveel nie en kan aanleiding gee tot gesondheidsprobleme.

troetelbou

Paws24