Onthou jy hoe seer dit was toe jou hart die eerste keer breek? Stel jou voor jou kind beleef dieselfde emosies. Geen ouer wil hul kind hartseer sien nie. Hoe kan jy jou dogter of seun ondersteun wanneer hulle huilend by die huis aankom nadat ’n verhouding verbrokkel het?

Cara Blackie, ’n opvoedkundige sielkundige, sê ouers besef dikwels nie ’n eerste gebroke hart of verhouding behels ’n groot emosionele komponent nie. “Gewoonlik kom hierdie verhoudings in die vroeë tienerjare voor wanneer tieners nie altyd met hul ouers oor hul gevoelens wil praat nie,” verduidelik sy. “Hulle is dalk baie geheimsinnig oor die verhouding teenoor hul ouers. Daarom kan die reeds moeilik wees om met jou tiener oor hul emosies te praat.”

Hoe kan jy die kommunikasie-skeidsmuur tussen jou en jou kind afbreek? Cara gee ’n paar goeie wenke:

Verwoord dit

Daar word gesê ’n omhelsing is ’n handdruk uit die hart en ’n omhelsing is soos ’n verband vir ’n seer wond. Reik uit deur jou kind ’n drukkie te gee. ’n Warm omhelsing sê baie en dit sal jou kind help waad deur haar emosies.

Praat uit die hart

Die skrywer Michael Ross sê: “Deel jou hart, nie jou mening nie.” Praat net uit jou hart wanneer jy met jou kind kommunikeer. Jy kan ’n storie deel oor die eerste keer toe jou hart gebreek is en hoe jy dit verwerk het. Moenie met intellektuele antwoorde vorendag kom nie. Jou kind wil waarskynlik met jou praat as ’n ouer, nie ’n terapeut nie.

Luister!

Moenie vir jou kind sê “ek het jou mos gesê” nie, selfs al het jy geweet die verhouding was gedoem. Dis beslis nie iets wat jou tiener of enigiemand anders wil hoor nie. Luister en bied ’n skouer om op te huil.

Probeer die pyn verstaan

Moenie die verbrokkelde verhouding of jou kind se gebroke hart as ’n kleinigheid afmaak nie. Ja, hy is waarskynlik te jonk om te dink hy het sy pasmaat ontmoet, maar hy het seer en hy het ’n behoefte daaraan dat jy sy pyn verstaan. Die belangrikste wat ouers moet besef, is dat, selfs al lyk dit vir hulle simpel en onbelangrik, het die verhouding vir hul kind veel meer beteken. Moenie sy gevoelens minag en geringskat nie.

Bou hulle op

Gee jou kind se selfvertroue ’n hupstoot. Herinner haar hoe wonderlik sy is en dat sy weer sal kan liefhê. Sê haar wat haar sterk punte is.

Raak besig

Moedig jou kind aan om aan skoolbedrywighede deel te neem of met ’n stokperdjie te begin. Dit sal hom help besig bly sodat hy nie al sy aandag aan die verbrokkelde verhouding wy nie. Hy kan aan sport deelneem of selfs ná skool dramaklasse loop.

Wees op die uitkyk vir depressie

Wees waaksaam. As jou kind te emosioneel ontsteld word, wees op die uitkyk vir depressie of selfs selfdoodgedrag. Dit beteken nie alle tieners kry selfdoodgedagtes nie, maar as jou tiener aan depressie ly, kan ’n verbrokkelde verhouding sulke gedagtes laat opvlam.

Seuns en meisies

Let daarop dat seuns en meisies ’n gebroke hart verskillend hanteer. Benader die situasie met sensitiwiteit. “Seuns is veel meer geneig om hul emosies (veral seerkry) binne te hou; daarom kan dit moeiliker wees om ’n seun se emosionele reaksie op ’n verbrokkelde verhouding te bepaal. Seuns is net so sensitief soos meisies en hul gevoelens moet ewe veel erkenning kry,” sê Cara. Meisies stort gewoonlik hul hart by hul vriendinne uit. Hulle sal deelneem aan aktiwiteite wat hulle nader aan hul vriendinne bring. Seuns word dikwels kwaad en slaan toe. Praat eenkant met jou seun oor sy verbrokkelde verhouding sodat hy nie verleë voel nie. Gee hom raad oor hoe hy sy woede kan herlei sodat hy nie sy frustrasie op sy broers en susters of wie ook al uithaal nie.

-Katlego Mkhwanazi