Jou kind kan nie tien sekondes stilsit nie. Hy bly woelig en beproef jou geduld so kwaai dat jy sy nek wil omdraai.

Hoeveel keer moes jy nie al dreig met ’n week se geen TV kyk as hy nie ophou om aan die gordynstokke te hang nie? En hy sit ure elke dag met sy huiswerk omdat hy netnie kan fokus nie . . .

Hoe sorg ’n mens vir kinders met aandaggebreksteurnis (AGS) of aandaggebreksteurnis met hiperaktiwiteit (AGHS) sonder om hul selfbeeld te knou omdat hulle so sukkel en so baie raas kry? En sonder om self gek te raak?

Hier gee ons raad oor hoe om ’n kind met dié steurnisse te hanteer. Want al is daar soveel hulpmiddels vir aandaggebrek en hiperaktiwiteit, bly dit steeds ’n uitdaging om in een huis saam te leef sonder dat ouer én kind moed verloor.

Maak vrede met die situasie

Dis belangrik dat jy nie dink jy het as ouer misluk omdat jou kind ’n leerprobleem het nie, sê Truida Botha, ’n opvoedkundige sielkundige van Fairland in Johannesburg. Gaan spreek gerus ’n sielkundige.

‘‘Dis normaal om moedeloos te word, maar pleks daarvan om dit op jou kind uit te haal, kan jy jou hart op ’n sielkundige se skouer uithuil,’’ is Truida se raad.

Jy hoef ook nie alleen te voel nie – baie ander ouers is in dieselfde situasie.

‘‘Daar is steungroepe, onderwysers wat die toestand verstaan en terapeute wat kan help. Kry ’n ondersteuningsnetwerk wat vir jou werk,’’ beveel sy aan.

Maak tyd vir jouself

As jy moeg en uitgebrand is, kan jy maklik jou ongeduld op jou kind uithaal. Voorkom dit met ’n doelbewuste strategie om jou batterye gereeld te herlaai.

‘‘Jy kan net goed wees vir jou kind as jy goed is vir jouself,’’ sê Heather Picton, stigter en uitvoerende hoof van Adhasa (die Suid-Afrikaanse steungroep vir mense met AGHS) en skrywer van die boek Hyperactive Children: Caring and Coping.

Vra iemand soos ’n ouma wat jy vertrou om na jou kind om te sien terwyl jy ’n blaaskans neem, sê sy. Of spaar geld vir ’n babawagter.

Een manier waarop veral vroue hul gemoed laaf, is om saam met vriendinne te kuier, sê dr. Anthony Costandius, ’n sielkundige van Kaapstad.

‘‘Vra ’n goeie vriendin of jy een keer per maand saam met haar kan gaan koffie drink en net kan afpak. Dis veral belangrik dat enkelouers dit doen.’’

Die dissipline monster

Kenners stem saam dat struktuur in die lewe van kinders met AGHS van kardinale belang is.

‘‘Jy moet duidelike grense stel,’’ sê Truida. As jy elke keer iets moet herhaal voor jou kind luister, maak dit ’n huisreël dat jy nie meer as een keer praat nie en dink ’n geskikte straf uit indien jou kind oortree.

‘‘Skryf die reëls en die strawwe eenvoudig en leesbaar uit en plak dit op die yskas sodat jou kind dit elke dag sien,’’ sê sy.

Kies ’n straf wat ooreenstem met jou kind se persoonlikheid. Truida stel ontneming voor.

‘‘Elke kind het iets wat vir hom baie belangrik is. As jou kind van Binnelanders hou, sê omdat hy ’n reël oortree het, mag hy vanaand net twintig minute kyk, pleks van die hele program. Of hy mag na die maatjie se partytjie toe gaan, maar jy gaan hom ’n uur vroeër kom haal.’’

Vir kleiner kinders werk uitsittyd goed. ‘‘Sit ’n matjie neer op ’n plek in die huis wat vervelig is. Kies ’n oop plek waar jy jou kind kan sien en waar niks sy aandag kan aflei nie.’’

Nadat jy jou kind gewaarsku het dat hy ’n reël oortree en hy doen dit weer, stuur hom na die mat waar hy moet stilsit en dink oor wat hy gedoen het. Hy moet ’n minuut lank sit vir elke jaar wat hy oud is. As hy dus ses jaar oud is, moet hy vir ses minute op die matjie sit.

As hy opspring, neem sy hand, vat hom terug en begin van voor af. As die uitsittyd verby is, kniel by jou kind en sê hy moet nou vir jou sê hy is jammer.

Daarna moet jy hom ’n drukkie en’’n soentjie gee en hom verseker van jou liefde, sê Truida.

‘‘Skei jou kind en sy daad. Sê vir hom jy straf hom nie omdat hy stout was nie, maar omdat dit wat hy gedoen het, stout is. Sê vir hom jy hou van hom, maar nie van wat hy gedoen het nie.’’

Hou hul selfbeeld sterk

Omdat sulke kinders baie raas kry, is die versekering van jou liefde hierbo onontbeerlik om ’n gesonde selfbeeld te behou.

‘‘As jy by jou dogter se kamer instap en sien sy het al weer nie haar skoolklere in die was gegooi nie, kyk eers of daar ’n pluimpie is wat jy kan gee voor jy met haar raas. Prys haar ook voor kuiermense as jy kan.’’

Probeer om nie dadelik te raas wanneer jy in die middag by die huis kom nie. ‘‘As jy by die huis instap en jy sien jou kind het verf op die mat gemors, soen haar eers en gee haar ’n drukkie voor jy dan verbaas na die verf op die mat kyk en vra: ‘O, maar hoe het dit dan gebeur?’ ’’

Fokus op die dinge wat hulle goed doen en soek iets waarvan hulle hou, soos ’n sportsoort wat hulle help om van oortollige energie ontslae te raak, sê Sanet Schoeman, ’n opvoedkundige sielkundige van Kaapstad.

‘‘Maar kinders met AGHS is nie altyd goed in ’n spansport nie en dis belangrik om sportsoorte goed te kies. Krieket is nie ’n goeie keuse nie, want dit neem lank en hulle verloor belangstelling. Karate, gholf en perdry werk dikwels beter.’’

Hanteer AGHS dag vir dag

Wanneer jy ná ’n lang dag by die huis kom, moet jy self eers rustig word voor jy aandag aan jou kind kan gee, sê Anthony.

‘‘Jou eie gemoed en stresvlak sal bepaal hoe besig jou kind in die loop van die aand gaan raak.’’

Kry die huiswerk so gou moontlik agter die rug. Anthony sê jy moet help, maar dit nie vir hulle doen nie. ‘‘Onderbreek die huiswerk met belonings as die kind goed vorder,’’ sê Sanet.

‘‘Sê vir hom as hy ’n bladsy klaar gelees het, kan hy vir tien minute trampolien

gaan spring. Beloon hom dadelik as hy iets goedgedoen het; kinders met AGHS kan nie wag vir belonings nie.’’

Onthou ook dat kinders met AGHS moet kan speel, sê sy.

‘‘Trampolien spring is ’n goeie idee, want dit kanaliseer hul energie.’’

Moenie voel jy moet jou kinders nog meer stimulasie gee wanneer jy by die huis kom nie, sê Anthony.

‘‘Die kind is dikwels aan die einde van die dag self moeg en oorgestimuleer.’’

Werkende ma’s wil hul kinders dikwels saans stimuleer, want hulle voel skuldig omdat hulle dit nie in die dag kan doen nie, sê Nita Lombard, ’n arbeidsterapeut van Kaapstad.

‘‘Maar dis beter om net rustig saam met jou kind ’n boek deur te blaai as om met opvoedkundige speelgoed te speel.’’

Jy moet vertrou dat jou kind genoeg stimulasie by die skool of speelgroep kry.

Sommige kinders sukkel om vriende te maak omdat hulle impulsief optree en nie maklik hul beurt kan afwag nie. Help jou kind dus om sosiale reëls te leer deur maats te nooi en dan ’n ogie te hou oor hoe hulle speel sodat jy tussenbeide kan tree wanneer nodig, sê Sanet.

Sorg vir ’n vaste roetine voor slaaptyd sodat jou kinders weet wanneer Klaasvakie kom. Staak stimulerende aktiwiteite soos om televisie te kyk twee uur tot ’n uur voor slaaptyd.

Daarna moet eet, bad en slaap mekaar in dieselfde volgorde opvolg. Die belangrikste van alles is dat jou kind moet weet jy is lief vir hom. ‘‘Onthou, jou eerste rol as ouer is om jou kind te versorg, lief te hê en te koester,’’ sê Truida.

‘‘Doen dit, al voel jy soms asof jy aan die einde van jou kragte is. Dit sal help om jou en jou kind se lewe makliker temaak.’’

Kontak Adhasa by 011-888-7655 of adhasa@telkomsa.net.

-         Lucia Swart