[caption id="attachment_173848" align="alignnone" width="600"]Foto: ER24 Foto: ER24[/caption]

Twee mense is dood en twee ander ernstig beseer toe ’n Helikopter in Heilbron in die Vrystaat neergestort het.

Paramedici het twee mense met noodlottige beserings binne die helikopter aangetref. Hulle is op die toneel dood verklaar.

Buite die helikopter is ’n 49-jarige man en ’n veertienjarige seun gevind, albei in ’n ernstige toestand.

Hulle is op die toneel behandel en daarna na die Heilbron Kliniek gehaas. Later is hulle na ’n hospitaal in Johannesburg oorgeplaas vir verdere behandeling.

Volgens Werner Vermaak, woordvoerder van die nooddiens ER24, is die man wat oorlede is die pa van die veertienjarige seun. Die 49-jarige man is ’n vriend van die pa en sy seun is die ander oorledene wat binne die helikopter gevind is.

Dit is aan Huisgenoot bekend dat die oorlede pa se naam Douw Wentzel is, ’n boer van Frankfort in die Vrystaat.

Op Facebook het sy vriend Corrie Nieuwenhuys geskryf, “Gaan jou mis veral daai growwe rasperstem wat klink asof dit in ’n Mafia movie hoort.”

Sy seun is ook Douw Wentzel en tans ’n gr. 9-leerling aan die Hoërskool Wilgerivier in Franfort in die Vrystaat.

Inligting rakende die ander oorledene en beseerde sal binnekort bygewerk word.