Pa’s het al hommeltuie ingespan om tande wissel pret te maak, maar Rick Rahim wou daarop verbeter.

Dis seker die hardste wat iemand al probeer het om ’n tandarts te vermy, en heel waarskynlik die meeste brandstof wat nog gebruik is om ’n los tand te trek . . .

Dit was van die kommentaar op Rick Rahim, ’n beroepsvlieënier van die Amerikaanse deelstaat Virginia, se toertjie om sy sewejarige laaitie, Carson, van ’n melktand te help ontslae raak.

Dié pa het ’n helikopter ingespan. Die ware Jakob, nie ’n radiobeheerde tuigie nie. Ja, pleks van sukkel met die ou vlos-en-deurhandvatsel-metode of om honderde aan ’n tandartsbesoek te bestee, het Rick, wel . . . honderde aan brandstof vir ’n dubbelenjin-helikopter bestee.

Die een ent van ’n lang tou met dobbers vir vermoedelik sigbaarheid aan is aan die tjopper vasgemaak en die ander ent aan ’n stukkie vlos wat om die teikentand geknoop is.

Rick wys vir Carson, wat die hele spektakel geduldig en dalk selfs half verveeld in sy Batman-T-hemp staan en betrag, twee duime omhoog voor hy die helikopter agteruit laat opstyg.

En siedaar: “Brandstof-aangedrewe tandartskunde met ’n 1 000 dubbel-enjin-perdekrag,” soos Rick dit stel by sy video – kompleet met ’n dramatiese klankbaan – op Facebook en YouTube.

Teen 16 Junie kon hy die verspreiding van die video reeds as “minimaal suksesvol” beskryf; dis toe al 250 000 gekyk. Aan die einde van die video verseker hy kykers al die deelnemers was deurgaans veilig.

Die helikopter was baie ver weg van Carson, sy “tandheelkundige assistent” en die ander grondpersoneel.

“Ek het agteruit en weg van die mense gevlieg en weerskante baie ruimte gehad, sou daar ’n noodgeval wees. Ek vlieg al 13 jaar helikopters. Wat jy ook al doen, maak seker jou kinders het baie meer pret as wat jy ooit gehad het.”

Bronne: Facebook, indepent.co.uk, parenting.com, popularmechanics.com