’n Lojale bulterriër het sy lewe in gevaar gestel toe hy ’n kobra aanval en doodbyt wat tot in die hond se eienaar se motorhuis geseil het.

[caption id="attachment_115554" align="alignnone" width="450"]Foto: KFM Facebook Foto: KFM Facebook[/caption]

Tracey Jacobs het aan die Kaapstadse radiostasie KFM gesê sy het die slang gesien nadat sy Vrydagmiddag uit haar motor geklim het.

Sy het vertel haar bulterriër, Dexter, “het dit dadelik gegryp en daarmee uit die garage uit baklei”.

Lees ook:  Snuffelhond red bejaardes van geldelike nagmerrie

“Ek kan hom nie genoeg daarvoor bedank dat hy my lewe gered het nie!” het sy aan KFM gesê. “Hy is so ’n vegter!”

Nadat sy foto’s van die slang aan haar man gestuur het, het hy haar meegedeel dit is ’n kobra en hulle moet dadelik by ’n veearts kom.

’n Stryd teen tyd

Tracey en haar man moes in spitsverkeer van Klipheuwel na die Tygerberg-dierehospitaal ry terwyl Dexter om sy lewe geveg het.

“Deur die Vader se genade” het ander motoriste vir die gesin plek gemaak en toe hulle by die veearts kom, was die hond “blou en het hy skaars asemgehaal”.

[caption id="attachment_115555" align="alignnone" width="450"]Foto: KFM Facebook Foto: KFM Facebook[/caption]

Dexter is ’n 50/50-kans gegee en deur die nag het sy niere begin ingee en sy hartklop afgeneem.

Tracey sê die dapper hond se toestand het stadigaan verbeter en hy loop nou weer.

Honderde mense het boodskappe op sosiale media gelaat om die dapper hond te prys. Soos Julie Coxton geskryf het: “Honde is die wonderlikste diere. Hulle sal jou lewe voor hul eie stel.”

[caption id="attachment_115557" align="alignnone" width="450"]Foto: KFM Facebook Foto: KFM Facebook[/caption]

In Desember verlede jaar het ’n Kaapse kobra ’n Vrystaatse tiener in haar slaap gepik.

Die slang het Ané Meyer aan die skouer gepik terwyl sy op haar gesin se plaas geslaap het. Ané het baie pyn ervaar en al haar spiere was seer, maar daar was geen ander kwade gevolge nie, het sy gesê.

Lees ook: Hond red seuntjie van beer

“Sy het wakker geword toe iets haar byt. Haar eerste reaksie was om dit te slaan, maar toe sy omdraai en sien wat dit is, het die slang langs haar kussing regop gestaan,” het haar ma gesê.

Ané se pa het die slang van kant gemaak.

Bron: News24