Heinz Winckler se aanhangers kan uitsien na ‘n groot bederf.

Na die sukses van sy eerste Afrikaans album “Ek kan weer in liefde glo” is die Idols-wenner nou besig met ‘n tweede een in Afrikaans. Hy wil nie veel daaroor verklap nie, maar hy sê darem die nuwe album sal iets vir almal hê.

“Die meeste van die liedjies sal in Afrikaans wees, maar daar sal ook drie of vier Engelse snitte wees,” sê hy.

“Ek was die grootste deel van die afgelope jaar op toer om die eerste album te bemark. Dit was ‘n reuse sukses en ek hoop die nuwe CD sal ook goed ontvang word.”

Die nuwe album sal later vanjaar op die rak wees.