Die model (40) het die tatoe, wat Seal se naam en hul kinders se voorletters in sterre insluit, ter viering van hul vierde huweliksherdenking laat aanbring. Maar ná hul egskeiding in 2012 laat sy dit nou verwyder ’n Bron het aan People.com gesê: “Heidi is besig om haar tatoe te laat verwyder. Sy het al ’n paar behandelings ondergaan. Die sterre met die kinders se voorletters sal bly.” Al gaan Heidi sedert September met haar lyfwag, Martin Kristen, uit, het sy onlangs onthul sy wil nie weer trou nie, want sy het reeds daardie “sprokie” geleef. Heidi was voorheen sowat vyf jaar lank met die stilis Ric Pipino getroud en is ná ’n kortstondige romanse met Flavio Briatore in Mei 2005 met Seal (50) getroud. Sy het gesê: “Dis nie meer vir my so belangrik nie. Ek was al getroud. Ek was 23 toe ek die eerste keer getroud is. Dit was altyd hierdie droom om te trou en die wit rok te dra. Ek was ses jaar getroud en dit het nie uitgewerk nie. “Ek sien nou baie meisies, 30 jaar oud, wat ’n man soek. Hulle wil trou, hulle wil die groot ring hê, en ek hou daarvan en ek hou daarvan dat hulle so voel. “Dis ’n sprokiedroom wat 70 persent van meisies het. Maar ek was daar, het die rok gedra, die droom gedroom. Ek is nou bly ek hoef dit nie weer te doen nie.” Afgesien daarvan dat sy nie weer wil trou nie, het sy ook gesê sy wil nie nog ’n kind hê nie. Sy het vier kinders: Leni (9), Henry (7), Johan (6) en Lou (3). Sy het bygevoeg: “Ek wil nie regtig nog kinders hê nie. Vier is baie en ek voel vervuld. As ek om die etenstafel kyk, voel dit vir my ons is voltooid.”