Laerskoolkinders se smaakkliere is al meer ontwikkel as kleuters s’n en hulle is bereid om nogal te waag as kos geurig en mooi berei aan hulle voorgesit word. Probeer gerus hierdie hoenderrolletjies met slaai en groente.

Bereiding: 20 minute

Gaarmaaktyd: 5-10 minute

Genoeg vir 6-8 porsies

Gekapte tamatieslaai

  • 2 ryp tamaties
  • ½ komkommer
  • 15 ml (1 e) pietersielie, fyn gekap
  • 10 ml (2 t) balsemieke asyn

Sny ’n kruisie op die onderkant van elke tamatie en dompel die tamaties in kookwater vir sowat 3 minute of tot die skil lostrek. Skil en halveer die tamaties. Verwyder die pitte en sap en sny die tamaties in blokkies. Halveer die komkommer en verwyder die pitte; sny die helftes in blokkies. Meng die tamatieblokkies, komkommerblokkies, pietersielie, suurlemoensap en balsemieke asyn. Geur indien nodig.

Hoenderrolletjies

  • 4 ontbeende hoenderborsies
  • sout en vars gemaalde swartpeper
  • 50 ml laevetmayonnaise
  • 100 g mozzarellakaas, gerasper
  • 100 g broccoli, in klein stukkies gesny
  • 30 ml (2 e) tamatie- of basiliepesto

Plaas elke hoenderborsie tussen twee stukke kleefplastiek en kap dit effens platter met ’n vleishamer of koekroller. Geur elke hoenderborsie liggies met sout en peper. Meng die mayonnaise, mozzarellakaas, broccoli en pesto en deel die mengsel tussen die hoenderborsies. Rol die  oenderborsies op en bedek dit met kleefplastiek. Maak seker jy draai dit styf toe. Plaas die  oenderborsies in kookwater en posjeer sowat 5 minute of tot gaar; hou eenkant. Verwyder die kleefplastiek en sny die hoender in skywe. Sit voor saam met die tamatie-sambal en fyn pampoen of fyn aartappel.

Die gaar hoenderrolletjies kan ook ’n kort rukkie effe gebraai word in ’n klein bietjie olie as hulle vir jou te bleek daar uitsien.