Toe die twee destyds een aand uitgaan, was Heather (nou 51) verstom toe Tom (nou 50) die bekende dans uit sy trefferfliek Risky Business begin uitvoer.

Sy het vir die geselsprogramaanbieder Chelsea Handler (38) gesê: “Ons het saam vir iets ’n oudisie afgelê en hy het nie vriende gehad nie... Ek bedoel, nie dat hy nie vriende het nie. Sy vriende was nie daar nie. Ons het uitgegaan en gaan dans.

“Weet jy in Risky Business waar hy daardie dans in sy onderklere doen en “split”? Ons het in ’n klub gedans en hy het dit begin doen. Hy het begin spreibeen afsak. Jy staan net daar en wonder wat om te doen. Dans jy om hom? Ek het gedink ek sal net gaan sit.”

Heather se latere huwelike met Tommy Lee (50) en Richie Sambora (53) het in die skeihof beland en Tom het drie mislukte huwelike agter sy naam.

Die akteur is in 1990 van Mimi Rogers (57) geskei en in 2001 van sy tweede vrou, Nicole Kidman (46). Sy huwelik van ses jaar met Katie Holmes (34) is verlede jaar beëindig.