Talle klante het doodluiters langs haar gesit en eet, onbewus daarvan dat sy dood is.

Luidens ’n plaaslike koerant, die South China Morning Post, is die vrou gevind waar sy oor ’n tafel naby die badkamer van die McDonald’s in Kowloonbaai in Hongkong lê.

Die eerste dat enigiemand agtergekom het die vrou is dood en nie net bewusteloos nie, was toe ’n werker ongeveer halfnege die oggend gevoel het die vrou is yskoud. Op kringtelevisie kan ’n mens sien hoe die vrou die vorige oggend ongeveer halfnege die restaurant binnekom en by ’n tafel gaan sit. Sy het ure lank by die tafel gesit. Ongeveer halftwee die oggend het sy skielik vooroor geval.

Die restaurant het aanhou sake doen; niemand het hulle aan die vrou gesteur nie

Die restaurant het aanhou sake doen; niemand het hulle aan die vrou gesteur nie, totdat ’n werker later die oggend agtergekom het sy is dood.

Die vrou was glo haweloos en sy is gereeld by dié 24-uur-restaurant gesien. Die polisie vermoed geen vuilspel nie.

Die gebied waarin sy dood is, is afgesper en ontsmet nadat haar liggaam verwyder is. Dit is later weer vir klante oopgestel.

Die ouderdom van die vrou is onbekend, maar daar word gereken sy was tussen 50 en 60 jaar oud. Op die dag van haar dood het sy niks bestel nie, buiten ’n glas water.

Die presiese oorsaak van haar dood is nog onbekend.

Bronne: The Independent; Inquisitr