Eerlikheid betaal tog – en dit het die hawelose Billy Ray Harris van Kansas City, Missouri, sowat R1,7 miljoen in die sak gebring!

Billy Ray het ná ’n lang dag besluit om sy aalmoese te tel. “Ek het die kleingeld in my bekertjie in my hand gegooi, toe sien ek die ring,” vertel hy.

En nie sommer enige ring nie; dit was ’n platinum-en-diamant-verloofring.

’n Juwelier wou dit vir R36 000 koop, maar Billy Ray het besluit om die ring te hou ingeval die eienaar dit kom soek.

En sy het. Sarah Darling het twee dae tevore haar beursie vir Billy Ray uitgeskud, maar vergeet haar ring was ook daarin. Toe sy Billy Ray daaroor vra, het hy die ring net daar uitgepluk en dit sommer voor Sarah se verloofde, Bill Krejci, aan haar vinger gesteek.

Sy beloning? Aanvanklik net R540, want dit was al die geld wat Sarah en Bill toe in hul beursies gehad het. Daarna het hulle ’n fonds gestig om R36 000 as beloning in te samel – die bedrag wat die juwelier Billy Ray aangebied het – maar nou is dit al amper 50 keer meer.

Sedert Februarie het 8 354 mense dwarsoor die wêreld sowat R1,7 miljoen geskenk aan die fonds, wat intussen gesluit het.

Billy Ray (55) sal nou sy eie bankrekening kry sodat die fondse daarin gedeponeer kan word. Maar dis nie al nie. Toe die storie rugbaar word, het familielede wat 16 jaar lank gedink het Billy Ray is dood, hom op TV gesien. Hulle het die televisienetwerk NBC gekontak en is met hom herenig.

Nou, met sy sibbe aan sy sy, is Billy Ray gereed om ’n nuwe lewe te begin – met ’n glimlag wat miljoene werd is.

BRONNE: TODAYNEWS.TODAY.COM, HUFFINGTONPOST.COM, CNN.COM, THESUN.CO.UK, GIVEFORWARD.COM/BILLYRAY, INDEPENDENT.CO.UK, DAILYMAIL.CO.UK, NYDAILYNEWS.COM