Dit nadat die 22-jarige Salman Abedi, wat in Manchester gebore is, 22 mense vermoor en ongeveer 119 beseer het toe hy ’n spykerbom aan die einde van Ariana Grande se konsert by die Manchester Arena laat afgaan het. Salman se 23-jarige broer is glo ook in hegtenis geneem. Chris Parker (32), ’n hawelose man, was in die voorportaal van die arena toe die nagmerrie-toneel voor sy oë afspeel. Chris gaan gewoonlik daarheen om by konsertgangers ietsie te bedel na hulle ’n vertoning of konsert gekyk het. Met die slag van die ontploffing het Chris op die grond geval, maar dit het enkele sekondes geneem vir die barmhartige Samaritaan om op te staan en konsertgangers te hulp te snel.

Hy het ’n sterwende vrou in sy arms gewieg en ook ’n bebloede kind met ’n t-hemp toegedraai.

Sedert sy heldhaftige poging het menige mense na hom uitgereik vir ondersteuning. ’n Fondsinsamelingsblad, GoFundMe, is ook aanlyn opgerig vir Chris.

David Sullivan, die eienaar van die Britse sokkerklub, West Ham, en sy seun Dave Jnr het ook aangebied om vir nog ’n hawelose, wat ook heldhaftig was gedurende die ontploffing, vir ses maande se losies te betaal vir sy heldedaad.

Chris het aan Daily Mail vertel dat hy maar net mens is. “Net oor ek haweloos is, beteken nie dat ek nie ’n hart het nie. Ek is steeds ’n mens,” sê hy.

Met Chris wat opslae gemaak het, het selfs sy vervreemde ma, Jessica Parker, na hom uitgereik.

Sy ma het by die die Facebook-inskrywing geskryf : “Dit is my seun wat vir ’n lang tyd van my vervreem was. Ek het geen idee gehad dat hy haweloos is nie, maar hy was verskriklik braaf gisteraand.”

“Ek is so trots op hom, maar ek is hartseer vir wat hy gesien en deurgegaan het. Ek wil net die kans hê om met hom herenig te word,” het Chris se ma voortgegaan.

Bronne: Metro , Daily Mail, The Sun,