Kaapstad – Lymen Mlambo maak slaggate reg, maar hy’s nie ’n munisipale werker nie. Dié hawelose en werklose man versamel kleingeld van vreemdelinge en koop sement daarmee om die paaie in Hartbeespoort te verbeter.

Sy sommetjies klop nie altyd nie en party dae sit hy met ’n sak sement en niks kos om te eet nie. Maar nou, met behulp van ’n besorgde inwoner, lyk dinge belowend.

Dis moeilik om Lymen (25) in sy neongeel weerkaatsende frokkie mis te kyk. Hy word dikwels gewaar waar hy oor ’n emmer in die pad gebuk staan of met ’n swaar sak sement oor sy skouer stap.

Vanessa Courtenay, ’n kleinsake-eienaar, het hom Saterdag gewaar en gewonder of iemand hom uitgekontrakteer het om die werk te doen. Sy’t met haar motor by hom gestop en hom daaroor uitgevra.

“Hy’t geantwoord: ‘Nee, mevrou, ek doen dit op my eie.’ Toe bars ek in trane uit.”

Weeshuis

Lymen het ’n moeilike lewe agter die rug. Sy pa is doodgeskiet toe hy ’n klein seuntjie in Zimbabawe was en sy ma is dood aan ’n onbekende siekte.

’n Opvoedingsorganisasie het die 10-jarige weeskind by ’n skool in Mabopane, noord van Pretoria, ingeskryf.

“Hy is later uitgeskop en dis hoe hy in Noordwes beland het waar hy in bosse in Ifafi geslaap het. Sonder ’n skuiling of hut,” sê Vanessa.

Sy sommetjies klop nie altyd nie en party dae sit hy met ’n sak sement en niks kos om te eet nie.

Lymen het Woensdag aan News24 gesê hy help al vier jaar lank die gemeenskap. “Ek maak slaggate reg omdat ek nie ’n werk het nie. Dis nie goed om ’n misdadiger te wees nie.”

Vanessa het nie geweet wat om te doen nie en toe ’n foto van haar nuwe vriend geneem en dit op ’n plaaslike gemeenskapsblad op Facebook gedeel en vir hulp gevra. Teen Woensdag was dié boodskap reeds meer as 10 000 keer gedeel.

Droom

Meeste verbruikers het dit wat hy doen geloof of geld aangebied. Ander het laat hoor sement is nie die beste ding om te gebruik nie, en kritici het gewaarsku dat die munispaliteit aksie teen hom kan neem.

’n Maatskappy wat slaggate regmaak en anoniem wou bly, het intussen aangebied om te help. Hy sal na verwagting Vrydag volledige opleiding ontvang en sy eerste sak met die mengsel om die slaggate reg te maak, sal geborg word.

Die regsfirma Webber Wentzel sit ook handjie by en gaan op ’n pro-bono-basis ’n nie-winsgewende maatskappy op die been bring, sê Vanessa.

“Dit sal die Lymen Project heet. Hy het ’n visie dat hy graag wil sien dat ander werkloses werk kry.”

Sodra sy ’n tolk gekry het, sal sy aan hom verduidelik van die ondersteuning wat hy gaan kry en by hom hoor of sy sy droom korrek geïnterpreteer het.

Sy is nou besig om die regte kanale te volg met die Madibeng-munispaliteit vir die projek. “Ek droom nou dalk te groot, maar ek wil sy droom ’n werklikheid maak.”

Tumelo Tshabalala, ’n woordvoerder vir die munisipaliteit, het gesê hulle sal op ’n latere stadium kommentaar lewer.

Bron: News24