Die 16-jarige tiener is op 7 Maart 2016 in die Tokaiwoud naby Kaapstad beroof, vermoor en verkrag. In ’n brief van haar ouers wat aan die hof voorgelees is, sê hulle hulle verkeer steeds in skok oor wat met hul dogter gebeur het.

“Die verlies van ’n kind is byna onbeskryflik. Daar’s pyn, hartseer en wroeging, maar aanvaarding is die moeilikste van alles.

“Om te weet jou kind het gely en jou nodig gehad, is vernietigend.

“Ons het getrek, van skool verander, deur nagmerries en slapeloosheid gely. Ons het gesukkel met ons huwelik en gevoelens van blaam en skuld. Ons geloof in God is getoets.”

Ook hul jonger dogter sukkel daagliks om die verlies van haar suster te verwerk.


“Ons bly agter met die ewige vraag van hoekom? Hoe kan een mens dit aan ’n ander doen? Hoe kan ’n grootmens dit aan ’n kind doen?

“Daar kan nooit enige regverdiging wees om haar lewe te neem nie. Haar familie en vriende bly agter met die ewige verlies en hartseer.

“Ons kan net hoop dat die mens wat vir hierdie wrede daad van geweld teen ’n onskuldige kind verantwoordelik was, nie vrygelaat sal word om weer enigiemand anders seer te maak nie.”

Howard Oliver het in April 2016 ’n brief geskryf waarin hy berou uitgespreek het. Maar ten spyte daarvan het hy tot 27 Mei 2017 volgehou hy was nie by die moord en verkragting van die tiener betrokke nie.

“Hy het die geleentheid aangegryp om ’n vinger na ander mense te wys,” het die aanklaer Lenro Badenhorst Woensdag gesê.

Eric Ntabazalila, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag (NVG) het Oliver se skuldigbevinding verwelkom.

“Dit is ’n groot stap in die rigting waar seker gemaak sal word dat Howard Oliver ’n lang gevangenisstraf opgelê word. Dit sal verseker dat hy nie weer die geleentheid kry om enige ander vrou, mens of kind weer seer te maak nie.”

Bron: news24.com

Save