Terwyl baie mense regmaak om vakansie te hou en Kersfees te vier, is burgerlikes in Sirië vasgevang in ’n gewelddadige oorlog wat ál meer lewens eis.

Die Siriese regering het pas die ooste van die stad Aleppo, een van die grootste stede in die land, teruggewen by sy teenstanders en hordes mense is reeds in dié oorloggeteisterde distrik afgemaai.

Sedert 2012 woed ’n burgeroorlog tussen die magte van die Siriese president, Basjar al-Assad, en die Free Syrian Army, ’n opposisiegroep wat onder andere deur rebelle gesteun word. Van bejaardes tot kinders is vasgevang in die stad terwyl die regering se magte beheer daaroor probeer neem. In Augustus vanjaar is 'n ontstellende foto van klein Omran duisende keer op sosiale media gedeel nadat Raf Sanchez, ’n joernalis in die Midde-Ooste, dit getwiet het. Nuusagentskappe wêreldwyd noem die seuntjie nou “die gesig van Aleppo”. ’n Video wys hoe hy uit die puin gehaal word van wat dalk eens sy huis in die buurt Qaterji was.

Terwyl burgerlikes wag om uit Aleppo gered en ontruim te word, deel hulle hartverskeurende boodskappe op Twitter.
Daarin word die nare werklikheid van dié burgeroorlog saamgevat.
“My finale boodskap: Ek is hartseer dat niemand in die wêreld ons help nie. Niemand red my en my dogter nie,” skryf Fatemah, die ma van ’n sewejarige dogter, Bana. Fatemah en Bana het internetgebruikers aangegryp met hul eerlike twiets oor die oorlog.

’n Onderwyser het ’n emosiebelaaide video gedeel waarin hy sê die president se magte is ’n paar meter weg van hom en dit is waarskynlik sy laaste oomblikke. Hy smeek ook dat mense na kinders soos sy dogter omsien.

Die regeringsmagte wat beheer oor die stad verkry het, het gelei tot ’n keerpunt in dié oorlog. Kyk dié video as jy nog wil uitvind oor die geskiedenis van die burgeroorlog in Sirië:

Kyk hier na hoe dit voor die oorlog in Aleppo gelyk het en nou: