Videogrepe van brandmaer Maleise heuningbere in ’n dieretuin in Indonesië het wêreldwyd woede ontlok nadat die Scorpion Wildlife Trade Monitoring Group dit in die sosiale media gedeel het.

Die een video wat in Mei verlede jaar gemaak is, toon hoe die oënskynlik uitgehongerde diere op hul agterpote staan en bedel vir afvalkos wat besoekers aan die dieretuin in die Indonesiese stad Bandung in hul hok gooi, berig Mashable.

Nog ’n ontstellende video toon hoe een van die bere blykbaar sy eie uitskeiding vreet.

Die organisasie monitor die bere sedert verlede jaar en het op 8 Januarie nuwe foto’s van hulle geplaas. Op dié hartverskeurende foto’s lyk dit asof die diere agter die tralies van hul hok huil.

“Die bere word in ’n betonhok sonder gras gehou. Daar is niks natuurliks nie. Dit is baie wreed,” het Marison Guciano, senior-ondersoeker van die Scorpion-stigting, aan Mashable gesê.

“Dit is een van die swakste dieretuine in die hele Indonesië. Dalk sal dit beter wees as die plek nou gesluit word, voor nog diere ’n pynlike en voorkombare dood sterf.”

Die direkteur van Scorpion, Gunung Gea, het aan Daily Mail Australia gesê: “Toe my span die dieretuin verlede week besoek, was daar geen gras of lewende bome op die vloer van hul hok nie.

“Ons het ’n heuningbeer sy eie mis sien vreet, maar toe ons die dieretuin se beamptes kontak, het hulle vir ons gesê die beer kry medisyne en ons mag hom nie sien nie.”

Verlede jaar het dieselfde dieretuin onder skoot gekom nadat hartverskeurende foto’s aan die lig gekom het van ’n siek, vasgekettingde olifant wat in haar smerige hok “huil”.

Nadat die onlangse beeldmateriaal van die bere onthul is, is verskeie petisies aanlyn begin dat die dieretuin moet sluit.

Geskokte besoekers aan die dieretuin het op die plek se TripAdvisor-blad kommentaar gelewer.

“Moet asseblief nie jou geld aan hierdie instelling gee nie. Die diere gaan dood van verwaarlosing. Hulle word net kosskenkings gevoer, en wanneer daar geen skenkings is nie, ly hulle honger,” skryf ’n besoeker van New York.

Een van Londen laat hoor: “Ek kon nie glo hoe walglik en vuil hierdie plek was nie.

“Die diere is swak versorg en ondervoed en word in die algemeen geïgnoreer deur wie ook al die godverlate plek besit. Moet asseblief nie hierdie bose dieretuin besoek of ondersteun nie.”

Die Bandung-dieretuin wou nie kommentaar lewer nie.