Dit was ’n doodeenvoudige vraag.

Kyle Schwartz was nuut by die Laerskool Doull in Denver in Amerika en wou haar leerders beter leer ken. Toe vra sy hulle om dié sin te voltooi: “Ek wens my juffrou het geweet . . . ” Die antwoorde het haar laat steier. ’n Rits emosionele stories het Kyle se oë laat oopgaan vir die uitdagings waarmee die kinders elke dag te doen kry.

“Ek wens my juffrou het geweet ek het nie by die huis potlode om my huiswerk te doen nie,” het een kind geskryf.

Nog een het geskryf: “Ek wens my juffrou het geweet my leeslysie is soms nie geteken nie omdat my ma nie baie in die omtrek is nie.” Dit was nie eens die ergste van die lot nie.

“Ek wens my juffrou het geweet hoe baie ek my pa mis. Hy is na Mexiko gedeporteer toe ek drie was en ek het hom ses jaar laas gesien,” het nog ’n kleinding geskryf.

Kyle het aan ABC News vertel: “Altesaam 92 persent van ons leerders kwalifiseer vir gratis en goedkoper middagete. As ’n nuwe onnie het ek gesukkel om die werklikheid van hul lewe te begryp en hoe ek hulle op die beste manier kan steun. “Ek het net gevoel daar is dinge wat ek nie omtrent my leerders weet nie.” Die stories het Kyle oorweldig. Sy het besluit om dit op Twitter te deel om ander onderwysers bewus te maak van die probleme en om die gesprek aan die gang te hou. Intussen het dit onder die hutswoord #iwishmyteacherknew versprei.

In I Wish My Teacher Knew: How One Question Can Change Everything for Kids, haar boek wat onlangs gepubliseer is, moedig Kyle ander onderwysers aan om ’n beter band tussen hulle en hul leerders te skep. Sy fokus ook op hoe belangrik dit vir ouers is om vir hul kind se onthalwe met onderwysers saam te werk. “As onderwysers weet ons ouers is die eerste en beste opvoeders vir hul kinders en ons wil hê hulle moet met ons saamwerk,” skryf sy. “Ek wil regtig hê gesinne moet weet onderwysers wil ’n gevoel van gemeenskap skep en ’n verhouding met die kinders bou. Kinders kan nie leer as hulle nie veilig of gewaardeer voel nie.” Hier is nog antwoorde van Kyle se leerders:

Bronne: ABCNews.go.com, BoredPanda.com,iwishmyteacherknewbook.com, Facebook