’n Sterwende Britse vrou is in haar hospitaalbed ’n laaste keer met haar gunsteling-perd herenig ure voor sy haar laaste asem uitgeblaas het.

Sheila Marsh (77), wat aan terminale kanker gely het, se laaste wens is bewaarheid toe sy by die Wigan Royal Infirmary na buite gestoot is om haar perd Bronwen ’n laaste keer te groet.

’n Foto is uitgereik waarop die dier sagkens haar neus teen haar eienaar druk nadat Bronwen na die hospitaalperseel vervoer is.

Sheila het onder meer ses perde, drie honde en drie katte gehad.

Nadat een van haar honde verlede naweek na die hospitaal geneem is om van haar afskeid te neem, het sy vir die hospitaalpersoneel gesê sy wens sy kon haar liefling-perd Bronwen sien wat sy 25 jaar lank versorg het.

Hulle het gereël dat Bronwen en nog ’n perd na die hospitaal se parkeerterrein geneem word en verpleegsters het Sheila in haar bed daarheen gestoot.

Haar dogter, Tina Marsh, het gesê: “Ek het my oë uitgehuil en al die verpleegsters het ook gehuil. Sy het vertroosting daaruit geput en dit was ’n pragtige oomblik.”

“Haar toestand het nie verbeter nie en die hospitaal het ons toegelaat om Bronwen in te bring. Sy is ure daarna oorlede. Ek wil die hospitaal en al die verpleegsters bedank.”

Bronne: BBC News, Daily Mail, Sky News