Die voormalige One Direction-ster Louis Tomlinson rou nadat sy ma, Johannah Deakin, Woensdag (7 Desember 2016) aan kanker dood is.

Die 24-jarige sanger se ma is op 42 jaar oorlede ná ’n kort stryd teen ’n aggressiewe vorm van leukemie, luidens ’n verklaring wat haar man, Daniel Deakin, aan die Britse koerant The Sun uitgereik het. “Dit is met onmeetbare hartseer dat Johannah Deakin se familie Johannah in die vroeë ure van Woensdag, 7 Desember 2016, gegroet het,” lui die verklaring. “Vroeër vanjaar is ’n baie aggressiewe vorm van leukemie by Johannah gediagnoseer wat onmiddellike en voortdurende behandeling geverg het. Ons vra met respek dat die familie tyd en ruimte gegun word om in privaatheid te rou.”
Buiten Louis laat Johannah ses kinders agter – Lottie (18), Felicite (16) en twee stelle tweelinge, Phoebe en Daisy (12) en Ernest en Doris (twee) – en haar kleinseun, Louis se 10 maande oue seun, Freddie.

Dan, wat in 2014 met Johannah getroud is, het hulde gebring aan sy eggenoot wat as ’n vroedvrou gewerk en haar vir liefdadigheid toegewy het.

Hy het gesê Johanna was “ongelooflik onselfsugtig; sy het altyd ander mense voor haarself gestel. Sy het niks meer begeer as dat almal om haar gelukkig en liefdevol moes wees nie. Sy het onvermoeid aan verskeie liefdadigheidsveldtogte gewerk en vir so baie mense en hul gesinne herinneringe geskep.” Hy het sy lewensmaat van vyf jaar “die volmaakte vrou” en sy “beste vriendin” genoem en gesê “al was vyf jaar ’n veels te kort tyd, het ons in daardie tyd baie leeftye se geluk, avonture en herinneringe gehad.” Daniel het ook die mediese span bedank wat Johannah by die Royal Hallamshire-hospitaal in Sheffield, Engeland, behandel het. Volgens The Sun sal Louis, wat met ’n sololoopbaan gaan begin, Saterdag (10 Desember 2016) op die voorlaaste episode van die Britse televisieprogram The X Factor optree in ’n huldeblyk aan sy ma.

Op Donderdag (8 Desember 2016) het Louis se suster Felicite ’n foto van ’n gebroke hart op Twitter getwiet. Louis se laaste Instagram-plasing, wat verlede maand (November 2016) op die sosialemedia-webtuiste geplaas is, was ook ’n foto van sy ma. Die byskrif daarby was: “My ma lyk pragtig voor die Brits (Awards) vroeër vanjaar. Ek is baie lief vir jou en mis jou baie!”

A photo posted by Louis Tomlinson (@louist91) on

Die popster is vervreemd van sy biologiese pa, Troy Austin.

© Cover Media