Die gewoonlik lewenslustige blondekop van Essex, Engeland, het in 2012 een van ma Joanne se niere ontvang. Nes haar boet Oliver (nou 14), wat toe reeds ’n nier van pa Mark ontvang het, het Ella Wishick aan ’n genetiese nierkwaal gely wat eindelik ’n oorplanting genoodsaak het.

Ella toe sy nog gesonder was, en 'n piksoen vir boet Oliver. Foto's: Facebook

Mark en Joanne het oral nuusopskrifte gehaal as, sover bekend, die eerste Britse ouerpaar wat niere aan twee van hul kinders skenk. Oliver is steeds perdfris danksy sy pa se nier, maar Ella se oorgeplante nier het helaas ’n paar maande gelede begin agteruitgaan.

“Ella is weer baie siek en het ’n nuwe nier nodig. Die een wat ek haar vier jaar gelede met vreugde gegee het, laat haar ongelukkig nou in die steek,” vertel Joanne op ’n skarebefondsingswebtuiste.

Sy behoort die studentelewe saam met haar vriende te geniet, “maar voel swak en heeltyd moeg, het haar eetlus verloor omdat sy dikwels naar is, jeuk oral oor en hoes lelik . . . alles tekens van ’n nier wat begin ‘afskakel’ ”.

Ella se nierwerking was teen laas maand net 15 persent van wat dit moet wees en sy moes dringend dialise ondergaan om drastiese verdere verlies aan funksie te verhinder.

En Joanne het ’n beroep op ander potensiële skenkers gedoen om ’n toets te oorweeg om te sien of hulle ’n nier aan haar dogter, met haar bepaalde bloedgroep, sou kon skenk.

“Ek self het nog nooit enige probleme as gevolg van my nierskenking ervaar nie . . . ons het eintlik glad nie twee nodig nie,” reken Joanne.

Oliver, wat met veels te klein niere gebore is, was slegs ’n maand oud toe hy dialise moes begin ondergaan, wat voortgeduur het totdat hy ná sy tweede verjaardag oud genoeg was vir ’n sogenaamde lewendeskenkeroorplanting.

(Kinders ouer as twee kan gewoonlik ’n volwasse nier ontvang; dan is daar gewoonlik genoeg ruimte in die buikholte vir die nuwe nier).

Pa Mark, gelukkig ’n ideale skenker in terme van bloedgroep, weefseltipe en dies meer, het nie ’n oomblik geweifel nie. Volgens Joanne “vaar Oliver baie goed met die nier wat my man hom 12 jaar gelede gegee het”.

Net so het sy ook nie gehuiwer om onder die mes te gaan toe medikasie nie die oplossing vir haar dogter se nierprobleme kon bied nie.

En ’n jaar of wat ná Ella se oorplanting kon die Wishicks trots toekyk hoe altwee hul kinders medaljes in die Britse Transplant Games wen: Ella goud in rolbal en brons in pluimbal, en Oliver goud in ’n hindernis-item en brons in pluimbal en naellope.

Ondanks haar gesondheidsterugslae is Ella “ ’n sorgsame, lieftallige mens, wat nog altyd ander probeer help het”, sê haar ma. En nou hoop en bid almal wat haar liefhet daar sal vir haar uitkoms wees.

Bronne: justgiving.com, Maldon Standard, stanfordchildrens.org, Facebook, Twitter