“Ek skryf dié inskrywing met ’n baie swaar hart,” het sy op Facebook vertel. “My skoonpa, Malcolm Fish, is vanoggend na ’n kort siekbed oorlede. Ek is so dankbaar vir die tyd wat ons oor Desember saam spandeer het. Die eindelose gesprekke wat jy met (haar en Mark se seuns) Luke en Zeke oor sokker gehad het en hoeveel hulle dit geniet het om die vakansie met jou te spandeer. Selfs in jou hospitaalbed verlede week het jy altyd tyd gehad vir ’n grappie. Jy gaan baie gemis word. Ons is baie lief vir jou,” het sy geskryf.

Malcolm het in die Strand buite Kaapstad gewoon. Loui het by navraag gesê Malcolm, ’n pensioenaris wat onlangs weer as drywer gewerk het, het verlede Donderdag net “inmekaar gesak”.

“Hy is in ’n hospitaal in Somerset Wes opgeneem en toe Sondag oorgeskuif na Tygerberg-hospitaal. Ek weet nie wat hom makeer het nie. Hulle het na ’n maagseer gekyk en sou nog toetse doen. Hy is toe vanoggend half een in die hospitaal oorlede.”

Loui se eksman, Mark, het Donderdagaand afgevlieg om sy pa te besoek. Die twee was lank vervreem. Hulle het verlede jaar herenig danksy Loui, die ma van Mark se seuns, Luke (18) en Zeke (15). “Ek het hulle laas jaar weer bymekaar gebring na 17 jaar,” vertel Loui, wat deesdae in Durbanville in Kaapstad woon.

“Mark het laas September afgekom. Ek het hom na sy pa geneem. Malcolm het Desember by my en die kinders in die Kaap gekuier. Desember of Januarie was hy na Mark toe," vertel sy.

"Dis vir my belangrik dat my kinders hul oupa ken. Ek het een keer elke week of elke tweede week met hom gepraat, nes met Mark se ma (Denise). Ek het van Mark geskei, nie van die res van die familie nie...”