Die liggaam van Monique Barnard (19) is drie maande nadat sy verdwyn het, in ’n veld buite Lephalale (Ellisras) gevind. ’n Klag van moord word deur die polisie ondersoek nadat haar erg ontbinde lyk op 6 Mei gevind is. DNS-toetse het bevestig dit is Monica, soos Monique verkies het om genoem te word.

Haar gebroke ma, Louise Loubser, kon nie Maandagoggend met Huisgenoot praat nie. Huisgenoot het in Mei berig die donkerkop het na bewering in die oggendure van Donderdag 7 April die woonstel wat sy in Lephalale in Limpopo met haar kêrel, Morné Janse van Rensburg (21) gedeel het, met net ’n klein tassie verlaat. “Ek weet nie meer watter kant toe nie; ek weet net nie meer nie. Sy was nog nooit so lank nie in verbinding met my nie,” het Louise destyds telefonies uit Pretoria, waar sy woon, vertel.

Die aand voor Monique se verdwyning het Louise tot 22:00 met haar oor WhatsApp gesels.

Morné het destyds aan Louise vertel dat Monique omstreeks 01:00 uit hul woonstel met net ’n tassie klere vort is.

“Hy het vertel hy het agter haar aangery, maar sy het geweier om by hom in die kar te klim. Ek kan dit glo, ek weet hoe onbeheers sy kan raak as sy in so ’n emosionele toestand is,” het Louise destyds aan Huisgenoot gesê.

Ao. Frans Mokoena, pollisiewoordvoerder, het Maandag gesê hulle het Maandagoggend inligting ontvang dat die liggaam wat gevind is, wel die van Monique was. Die polisie is besig met die ondersoek.

Enigeen met inligting kan Mokoena bel by 072 465 9056 of kapt. Hlongwe by 014 762 1068.