Die gewilde aktrise het die hartseer nuus Donderdagoggend in die sosiale media gedeel. Sy is sedert verlede week met vakansie in Portugal en het van daar af ’n inskrywing op Facebook gemaak: “Ons geliefde broer, Renico, is oorlede. Woorde het ek nie. Dis die Here se wil. Hy beskik.

"Ek sal weer praat as ek kan. Dankie,” het sy op Facebook geskryf.

Sy het verlede jaar in ’n onderhoud met Huisgenoot vertel dat sy en haar drie sibbes vandag nog beste vriende is. Sy is op Philippolis gebore en het as kind vyf jaar op ’n plaas naby dié Suid-Vrystaatse dorp gewoon voor die gesin na Pretoria verhuis het.
 
“Ons was skoolvakansies op die plaas net op mekaar aangewese en deel dieselfde waardes. Ons sê vir onse Vader dankie, en vandat ons klein is, sê ons ook dankie vir werk,” het sy verlede jaar aan ons gesê.
 
Renico was die oudste kind en enigste seun. Brümilda het ook twee susters, Fredrika Janse van Rensburg en Nancy Blomerus.
 
Toe Brümilda verlede jaar haar 60ste verjaarsdag vier, was sy vir 10 dae saam met Renico en hul susters in Kroasië.
 
Volgens Netwerk24 het Renico aan hartprobleme gely en vermoed die familie dat hy in sy slaap weens ’n hartaanval oorlede is. Nancy het hom in sy woonstel op Plettenbergbaai dood aangetref nadat Brümilda onraad vermoed het toe hy nie op haar boodskappe gereageer het nie.

Renico was ’n bekende  mode- en skoonheidsfotograaf, ’n modelbestuurder en -agent, asook ’n talentsoeker. Verskeie bekende glansmense, soos Arnold Vosloo, Richard Chamberlain, Esta Terreblance, Steve Hofmeyer, Leandie du Randt, Donna-lee Robberts, Annelien Kriel en Jo-Anne Straus, het al voor sy lens ingeskuif.

Renico het hierdie pragfoto van Brümilda in 2011 op sy Facebook-blad gedeel.

Volgens sy webtuiste het hy in 1984 ’n Guinness-wêreldrekord opgestel nadat hy ’n indrukwekkende 76 uur en 45 minute lank modelle – sonder ophou – afgeneem het.
 
Hy het nou saam met Brümilda gewerk om portefeuljes vir haar dramaskool en agentskap voor te berei. Hy sou onder meer fotosessies met haar studente en haar voormalige studente behartig en was ook verantwoordelik vir haar webtuiste.