Die gebeure het in die provinsie Bueng Kan, Noordoos-Thailand, afgespeel en die pa was die 45-jarige Pheeraphan Hongthawee.

Die sorgsame kleingoed het volgens berig gedink hul pa is aan die slaap in die badkamer en dus het hulle, voordat hulle gaan inkruip het, vir hom ’n kombers geneem sodat hy kon warm bly, en ook ’n glas water.

Die sorgsame kleingoed het gedink hul pa slaap. Foto: Magazine Features

Die tragedie is dat hy die volgende oggend, toe hulle wakker word, nog steeds nie gereageer het nie. 

Twee van die oudste dogters skryf toe hartroerende briewe aan hul pa waarin hulle smeek dat hy moet bykom, en toe plaas hulle dit by sy kop in die hoop dat hy sou wakkerword.

Die polisie en nooddienste het uiteindelik daar aangekom en die man dood verklaar.  Die pa is veras.

Die kinders in die huis was die negejarige Jom Jep, die sewejarige Jiap en nog ’n  seuntjie van slegs vyf jaar oud. 

Die kinders het hartroerende briewe aan hul pa geskryf waarin hulle smeek dat hy moet bykom. Foto: Magazine Features

Volgens berig het die ma in Bangkok gaan werk en nog een van die jonger kinders saamgeneem.

Die kinders het aan die polisie gesê hulle het gedink hy het sy roes afgeslaap.  Jom Jep, die oudste, het aan die polisie gesê haar pa het alkohol gedrink omdat hy gestres was aangesien hy gefaal het as garnaalverkoper.

Een van die briewe het gelui: “Ons is lief vir Pa.  Moet asseblief nie sterf nie.  Kom asseblief reg en kom vir altyd na ons toe terug.  Mag dit waar word. Amen.” 

Een van die kinders het ’n prentjie geteken met drie gelukkige mense daarop.

Die begrafnis was gister.  Die presiese oorsaak van die dood is nog nie duidelik nie.