Scott van Zyl, eienaar van SS Pro Safaris, se vrou, Suré het op Facebook gesê sy bedank ieder en elkeen wat sedert Vrydag by die soektog na haar man betrokke is.

“Mag God hom veilig hou en al die soekspanne seën,” het Suré geskryf.

By dié inskrywing, waarby sy die kommentaar “feeling heartbroken” geskryf het, het sy mooi foto’s van hulle geplaas.

Verskeie mense het op Facebook geskryf hulle bid Scott word gevind. Mense van so ver as Alaska bid vir Scott.

Scott was saam met ’n groep buitelandse jagters naby die Chikwaraka-kamp in Zimbabwe toe hy Vrydag uitgegaan het saam met sy honde en nooit teruggekom het nie, het Salomé de Villiers, ook ’n beroepsjagter, op die fondsinsamelingswebblad, Go Fund Me, geskryf.

Salome probeer geld bymekaar maak om solank as moontlik helikopters se huur en brandstof te kan betaal om na Scott te kan soek. Die helikopters fynkam albei kante van die grens.

’n Grootskaalse soektog is reeds gisteroggend al van stapel gestuur om na dié pa van ’n jong seun en dogter te soek. Selfs die weermag het die grens patrolleer in die hoop om Scott te kry.

Volgens Salome is Scott se rugsak by die Limpoporivier gevind.

Gerhard Vos, wat die soekspanne koördineer, het vanmiddag gesê daar is nog nie enige nuwe nuus nie en dat die soektog nog voortduur.

"Ons vra fondse om die soektog te finansier. Die soektog gaan meer as R500 000 kos. En baie gebede asseblief," het Gerhard gesê.

Mense wat geld wil gee om die soektog te finansier, kan dit doen op die webblad Gofundme.