Die voorval het in Bettiesbaai plaasgevind en haar ma was ook teenwoordig. 

“Tenspyte van ’n grootskaalse ondersoek is die kind steeds vermis, van haar klere is in die water gevind,” het Craig Lambinon, woordvoerder van die NSRI gesê.

Daar word geglo dat die minderjarige, wat op vakansie was met haar familie van Claremont, dalk verdrink het.

Rowwe seetoestande belemmer die soektog, maar die soektog sal voortgaan en die polisie ondersoek die voorval, het Lambinon gesê.

Die NSRI Hermanus-dienspersoneel tesame met NSRI Gordonsbaai, Overberg Brand-en-reddingsdienste en die Wes-Kaapse regering se gesondheidsorg-nooddienste-ambulans- en reddingspan is Vrydag ontbied om ’n soektog uit te voer.

Saterdag het die SAPD, die polisie se duikseenheid, Kaapse natuurbewaringsbeamptes en die Bettiesbaai-buurtbestuur hul soektog na die meisie voortgesit.

Haar skool, Greenfield Meisies Primêr in Kenilworth, Kaapstad het intussen hul medelye aan haar familie uitgespreek.

"Die Greenfield-gemeenskap treur die verlies van Louise Fowler, ’n Graad 1-leerling. Ons harte en gebede gaan uit na Kim, Ryan, Claire en hul familie en vriende. Die verlies van ’n kind is onbeskryflik.

"Mag die lieflike herinneringe wat hulle van Louise het, hulle koester in die tyd van hartseer, mag God hulle seën en langs hulle loop. Louise was vir ’n klein rukkie met ons, maar wat ’n liefling. Ons dink aan haar onderwysers en klasmaats gedurende hierdie moeilike tyd," lui die verklaring.

Lambinon het egter aan Huisgenoot gesê die NSRI kan nie die skool se verklaring bevestig nie en dat die ondersoek voortduur totdat die NSRI haar liggaam vind. 

Ekstra bronne: News24