Christo van der Merwe, Poppie (3) se pa, is voor die diens deur familie getroos waar hy heel voor in die Wes-Randse kerk in 'n pienk hemp gaan sit en ween het.

By die ingang by die klein bruin kissie, was Louisa Koekemoer, Poppie se ma, met 'n gekneusde gesig.

Sy is na bewering Woensdagaand ontvoer, erg aangerand en gedreig deur 'n vrou wat haar as 'n polisiebeampte voorgedoen het, het Huisgenoot vroeër onthul.

Kobus Koekemoer (43), haar stiefpa, het haar na bewering verlede Dinsdag op die hoewe naby Brits doodgeskop waar hy saam met Louisa en haar kinders, Poppie en dié se boetie (5) woon.

Ds. Yolandi Benadé, wat ook klein Poppie as baba gedoop het, het begin deur die familiebrief uitgelees:

"Jy het ons lewe vol gemaak, vol van liefde, vol van geluk, jy het ons so baie vreugde gegee. Ons verlang na jou, jy is diep in ons hart gemessel en dit is waar ons jou altyd sal dra tot ons ontmoet daar in die hemelpoort. Poppie, jy moet lekker speel, ons engelkindjie, daar tussen die engeltjies."

Daarna het mense wat plek-plek in die kerk gesit het, geluister na die kinderlied: "Jesus roep die kindertjies."

Ds. Yolandi vertel sy en haar boetie het hier in die kerk rondgehardloop en sy het hier by die tannies die naam "Poppie" gekry omdat sy so mooi was. Poppie se doopname is Louisa Cornelia Susanna, soos haar ma.

Kobus is steeds in aanhouding en sal weer op 17 November in die Brits-landdroshof verskyn. Die dominee het mense aangespoor om nie wraak te neem nie, maar uit haar jong lewe te leer.

"Waar sy nou is, is daar geen vrees of angs nie. God weet wat gebeur het. Hy gee ons krag en vrede," het sy die ouers en familie getroos.

Poppie se ouer halfsussie het die volgende brief aan haar voorgelees:

Rus sag, baba sussie, jy was maar net 3 jaar oud

Jou klein, kort, dierbare lewe was so kosbaar vr my

Jou diep, blou ogies en blonde gekrulde haartjies met

’n Hart van goud. Jy het met jou sagte hartjie diep spore

In ons harte getrap. Ek kan nog hoor hoe jy my naampie roep

En hoe jy sê hoe lief jy is vir my. Jou dood was ’n skok, maar jy

Dans nou met die engeltjies daar bo en kyk oor ons. Ons sal jou

Vir ewig in ons hart dra. Jy sal altyd my liggie in die donker wees

Jy is my lewe en ek sal jou nooit vergeet nie. Baie liefde. Jou groot

Sussie...