[caption id="attachment_154294" align="alignnone" width="600"]Jennifer en haar oorlede pa. Foto: Verskaf Jennifer en haar oorlede pa. Foto: Verskaf[/caption]

Maar dis nie wat die sangeres en liedjieskrywer Jennifer Zamudio Sondag gaan doen wanneer sy háár 45ste verjaardag vier nie.

Dit is die eerste keer in haar lewe dat sy opsien na haar verjaardag, erken Jennifer. “Eintlik gaan dit ’n baie emosionele dag wees.”

Sy en haar pa, René, ’n visserman wat sy lewe lank aan die Weskus gewoon het, het op dieselfde dag verjaar en het altyd probeer om op dié dag by mekaar te wees. Maar hierdie Sondag is dit anders.

René is verlede jaar in Augustus in die ouderdom van 80 jaar oorlede nadat longkanker in April 2015 by hom gediagnoseer is.

“My verjaardag sal nooit weer vir my dieselfde wees nie, want my rots is nie meer hier om dit mee te deel nie,” sê ’n emosionele Jennifer, wie se jongste treffer, Ongelooflik, deesdae op radiostasies gehoor kan word. “Ek glo dit sal mettertyd wel beter gaan, maar daardie leemte sal nooit gevul kan word nie.”

Vriende het wel vir haar gesê dat hulle ’n klein bymekaarkoms vir Sondag reël. Omdat haar pa so lief was vir palmbome, gaan sy sy lewe vier deur vir hom ’n palmboom in haar tuin in Pretoria te plant.

Kort ná haar pa se dood het die sangeres ook die hartseer tyding gekry van die moord op haar neef ao. Dion Dumas (57), wat op Oukersaand op sy tuisdorp, Malmesbury, in ’n lokval gelei is. Sy lyk is later in ’n nywerheidsgebied sowat 26 km van sy huis af gekry.

Jennifer verteenwoordig Suid-Afrika volgende maand as finalis in die internasionale sangkompetisie SuperXtar, wat in die Amerikaanse deelstaat Tennesse gehou word. Sy het die eerste twee rondes van dié kompetisie gewen.