DIT was die troue van haar drome met die sjarmante en aantreklike, ryk prins op wie sy haar lewe lank gewag het.

Daar was vyf seremonies oor drie dae in Indië, met 300 vriende en familielede wat uit verskillende wêrelddele spesiaal daarheen gevlieg het om in die paartjie se vreugde te deel.

Die pragtige bruid het maande vooraf alles haarfyn beplan. Sy het self elke familielid se uitrusting vir elke seremonie uitgesoek, om seker te maak alles pas bymekaar, en dat elke besonderheid net reg sou wees vir die grootste geleentheid van haar lewe.

Sy het drie maande voor haar troue al na Indië gereis om alles te reël, en toe sy daar kom en die armoede sien, het sy, tipies groothartige Anni, ruim geld aan weeshuise geskenk.

Maar drie weke ná haar droomtroue sou nog ’n seremonie toe volg, een wat dié perfeksionistiese slimkop nie kon voorsien of voor kon beplan het nie. Dit was haar verassing in Londen, en die gedenkdiens waar gebroke vriende en familie finaal afskeid van haar moes neem.

Anni Dewani (28) is presies twee weke ná haar glansryke troue in Moembaai op hul wittebrood in Suid-Afrika doodgeskiet toe die taxi waarin sy en haar man, Shrien (30), gery het, in ’n Kaapstadse township gekaap is.

Terwyl die moord skokgolwe deur die hele land gestuur het, sit haar ouers, Vinod (61) en Nilan Hindocha (59) van Swede, steeds in volslae ongeloof dat sy werklik weg is. Dis soos ’n aaklige droom waaruit hulle maar net nie kan wakker word nie, en die tergende raaisels oor die presiese omstandighede van haar dood is nog nie uit die weg geruim nie.

Intussen probeer haar familie vergeet van die skokbeelde van die lyk van hul pragtige kind bebloed op die sitplek van ’n verlate taxi, om liewer net aan die mooi herinneringe oor hul dogter te probeer vashou.

IN Swede waar Anni se familie woon, is haar ouer suster, Ami Denborg (33), ’n ingenieur in Stockholm, verpletter oor haar dood.

“Ek sien nog hoe sy net ’n paar weke gelede op haar troue gestraal het. Sy was so verlief. Vir haar was dit ’n droom wat waar word. En ook om Afrika vir die eerste keer te besoek.’’

Dit was juis Anni, het Shrien ná die moord gesê, wat op die ingewing van die oomblik voorgestel het dat hulle die “ware Afrika’’ laataand op die Saterdag van haar dood op 13 November in die Kaapstadse township in Gugulethu gaan ervaar.

Shrien het 13 maande gelede in die Hindochas se lewe gekom toe Anni vir familie in Engeland gaan kuier het.

“Sy het hom daar ontmoet en dit was liefde met die eerste oogopslag,’’ vertel Ami.

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 2 Desember 2010