SY LYK soos ’n bang, klein meisietjie daar aan die voet van die boom. Sandi Larkin lê ’n bossie met wit en blou blomme neer. Dit was Robert Spence (19), haar “trouman”, se geliefkoosde kleure.

“Ek kom sit elke dag vars blomme hier en sal dit seker vir ewig doen. Ek praat elke dag met Rob, maar ek sal nooit weer sy hand kan vashou nie,” sê sy verwese.

Hier by dié boom op hierdie berugte pad deur Targetkloof in Port Elizabeth is Robert op slag dood nadat hy by ’n motor uitgeslinger is. Die bestuurder was 17 jaar oud en vermoedelik dronk toe hy teen ’n geweldige snelheid beheer verloor, oor ’n middelmannetjie gejaag, die motor laat tol en teen die boom vasgejaag het.

Een van die regterkantste wiele het morsaf gebreek. Die onderstel is byna 2 m bo die grond in die boom vas en die motor het soos ’n hoefyster om die stam gevou voor dit op sy dak beland het. Die bestuurder het met ’n gebreekte arm en kakebeen uit die wrak weggestap, maar Robert was dood.

“Robbie het al op die snelweg uit ’n motor geklim omdat die bestuurder te dronk was,’’ sê Sandi. “Ek weet nie wat presies daardie aand deur sy kop gegaan het nie. As ek maar net gekeer het toe hy verder wou gaan kuier . . .”

Sandi het blomme om die letsels aan die boom vasgebind waar die motor dit getref het, so amper asof dit die letsels wat in die lewe van Rob se geliefdes agtergelaat is, moet versag. “Ek is lief vir jou, Robert Spence, met my hele hart en siel,’’ het sy op die stam geskryf.

Die matriekeindeksamen lê voor die deur. En terwyl haar klasmaats aan die Victoria Park High School in Walmer, Port Elizabeth, hulle voorberei vir die rekordeksamen, kan dié matriekleerder haar nie indink hoe sy dit gaan slaag nie.

Dit gaan trouens glad nie goed met Sandi nie, besef jy met ’n skok toe sy sê: “Ek kon nog glad nie fokus op my skoolwerk nie. Ek mis hom te veel. Ek wens ek was saam met Rob in daardie motor . . .”

Sy is net 17 jaar oud, maar dit voel vir haar asof die lewe nie meer die moeite werd is nie. Want die man saam met wie sy wou oud word, is weg.

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 22 Julie 2010.

Bespreek vir Skouspel!