Die superster Tom Cruise se 80-jarige ma, Mary Lee South, is ná ’n lang siekbed in haar slaap oorlede, berig TMZ.

Tom (54) en sy susters, Lee Ann de Vette (57), Cass Mapother (55) en Marian Henry (52), het die afgelope naweek ’n gedenkdiens by haar plaaslike Sciëntologie-kerk bygewoon, het die Amerikaanse tydskrif People berig.

Dit was Mary, ’n spesiale-onderrig-onderwyseres, wat Tom se liefde vir toneelspel aangewakker het.

“Ek het altyd in die teater belanggestel, maar daar het niks van gekom nie,” het sy in 1986 aan Rolling Stone gesê. “Toe ek jonk was, het jy ’n groot kans gewaag deur Hollywood toe te gaan.”

Mary het Tom tydens sy grootwordjare in New York en Ottawa, Kanada, aangemoedig om by ’n plaaslike teatergroep in toneelstukke te speel.

“Ek veronderstel ek was sy grootste aanhanger in die gehoor. Hy het toe al daardie ietsie ekstra in hom gehad.”

Mary en Tom se pa, die elektriese ingenieur Thomas Cruise Mapother III, is in 1974 geskei. Sy is in 1978, toe Tom 16 jaar oud was, met Jack South getroud.

Die gesin het ’n baie hegte band gehad, maar Mary en Tom was veral geheg aan mekaar – en Mary het altyd geweet haar seun is bestem vir ’n loopbaan in die rolprentbedryf.

Toe Tom haar en sy stiefpa vra of hy ’n akteur kan word, het “ons albei heelhartig daartoe ingestem”, het Mary vertel.

“Ons het albei gevoel dis ’n Godgegewe talent . . . Om ’n lang storie kort te maak, ons het hom ons seëning gegee – en die res is geskiedenis.”

Bronne: TMZ, Rolling Stone, People