Tereza Troskie-Herbst (48) se hart is baie seer, maar sy het vrede nadat haar pa, John Berry (72), vroeg Vrydagoggend oorlede is.

[caption id="attachment_165491" align="alignnone" width="600"]Foto: Sharon Seretlo Foto: Sharon Seretlo[/caption]

John, by wie veelvuldige melanoomkanker net meer as ’n jaar gelede gediagnoseer is, was in ’n hospitaal in Somerset-Wes toe hy om 06:20 oorlede is.

“Dit is ’n seldsame soort kanker wat die been aanval en dit wegvreet,” het ’n hartseer Tereza gesê. Hy het erge pyn in sy laerug ervaar. Die laaste ruk het haar pa ook longontsteking gehad wat net nie wou opklaar nie.

Dit het veroorsaak dat haar pa gesukkel het om asem te kry, sê Tereza. Baie sterk antibiotika is vir hom voorgeskryf.

Dat hy nou reeds sou sterf het die familie nie voorsien nie. “ ’n Jaar gelede het ons gehoop hy sou nog vyf tot 10 jaar kan leef,” het sy gesê. Maar die afgelope Maandag is John se behandeling gestaak. Dokters kon niks meer vir hom doen nie.

Skanderings het swart kolle in haar pa se liggaam getoon, “tot by sy brein” het Tereza gesê.

Tereza het gesê haar ma, Joey (70) is baie hartseer, maar het vrede in haar hart.

’n Boodskap wat Tereza se skoonsus, Ilana Herbst, vanoggend vir haar gestuur het, het haar diep geraak. “Nou sit Jayden op oupa se skoot in die hemel.”

Jayden is Tereza en haar man, Bennie, se baba wat net ses dae gelewe het.

[caption id="attachment_165492" align="alignnone" width="600"]Tereza (naaslinks agter) en haar pa, John Berry (naaslinks voor). Foto: Verskaf Tereza (naaslinks agter) en haar pa, John Berry (naaslinks voor). Foto: Verskaf[/caption]

Die voormalige mev. Suid-Afrika sê sy sal haar pa onthou as die rustige vredemaker, die een wat altyd kalm was “wanneer stormwinde waai”. Sy familie was vir hom baie belangrik. Tereza sê haar pa was ontsettend lief vir en trots op haar en Boet Troskie se seun, Jamie.

“Ek kan nie onthou dat hy ooit vir my ma een skewe woord gesê of een skewe kyk gegee het nie. Hy was ’n voorbeeld van hoe jy jou medemens moet behandel.”