Die oorlede prinses Margaret se eksman – die oorspronklike “koninklike rebel” – is in die ouderdom van 86 dood.

Lord Snowdon, gebore Antony Charles Robert Armstrong-Jones, se huwelik met prinses Margaret het ná 18 jaar op ’n egskeiding uitgeloop – die eerste koninklike egskeiding sedert Henry VIII. Die paar was van 1960 tot 1976 getroud.

Die nuus oor die kranige fotograaf se dood is deur die fotoagentskap Camera Press, waaraan hy verbonde was, in die sosiale media aangekondig.

Volgens die Telegraph is Koningin Elizabeth “hartseer” oor die nuus oor haar suster se eks.

Prinses Maragaret en lord Snowdon het twee kinders saam gehad: burggraaf Linley en lady Sarah Chatto.

Kykers en volgelinge van The Crown, die gewilde Netflix-reeks oor die Britse monargie en die lewe van koningin Elizabeth II het onlangs prinses Margaret se omstrede romanse met die geskeide Peter Townsend herleef. Die dag nadat Peter haar ingelig het hy beoog om met ’n Belgiese vrou te trou het die prinses lord Snowdon se huweliksaanbod aanvaar.

Dit is glo nog onduidelik of die koningin sy begrafnis sal bywoon.

Bronne: hellomagazine.com; Telegraph