Die veroordeelde lemnaeler Oscar Pistorius se geliefde ouma Gerti Pistorius (92) is vroeg Sondagoggend oorlede. Ouma Gerti was Henke, Oscar se pa, en sy ooms Arnold, Theo en Leo se ma.

Johan van Wyk, wat met Arnold se dogter, Eunice, getroud is, het telefonies aan Huisgenoot gesê sy is na ’n kort siekbed in die hospitaal oorlede.

Volgens Johan is die familie hartseer, maar ook rustig. "Sy het ’n vol lewe gehad," sê hy.

Hy vertel ouma Gerti het ’n noue band met elkeen in die familie gehad. Sy het die laaste paar jaar in die Kronendal afree-oord in Pretoria gewoon. Beide Oscar en sy suster, Aimee, het haar Oumie genoem.

Aimee het kort na Gerti se dood op Instagram geskryf dat haar liefling-ouma oorlede is. "Jy het altyd so onbaatsugtig van jouself aan jou familie en die mense rondom jou gegee," was Aimee se woorde. "Selfsugtig het ek jou steeds nodig en wil ek jou by ons hê, maar ek weet jy was moeg en gereed om by die Here te wees."

Sy bedank ook haar ouma vir al die liefde wat sy hulle gegee het en die wysheid wat sy met hulle gedeel het. Sy praat ook van die baie maniere wat sy almal wat sy geken het se lewens verryk het.

Volgens Aimee was Gerti een van die mooiste en mees elegante vroue wat sy geken het. "Ek is so geseënd om jou myne te noem," skryf sy. "Dankie vir die spesiale moederlike rol wat jy in my lewe gespeel het."

[caption id="attachment_140160" align="alignnone" width="546"]Dit was alombekend dat Oscar baie lief was vir sy ouma. Foto: Facebook Dit was alombekend dat Oscar baie lief was vir sy ouma. Foto: Facebook[/caption]
Op Gerti se Facebookblad is daar twee foto's van haar saam met Oscar. In een vou sy haar arms liefderik om hom. Oscar se niggie, die bekende aktrise Reine Swart, het ook hierdie pragtige huldeblyk aan ouma Gerti gebring.

A photo posted by Reine Swart (@reineswart) on

Johan het aan Huisgenoot bevestig Gerti se roudiens word Vrydag by Kleinkaap in Pretoria gehou.

Suid-Afrikaanse wetgewing laat gevangenes toe om in uitsonderlike gevalle aansoek te doen dat die departement van korrektiewe dienste hulle na belangrike familiegeleenthede soos begrafnisse vergesel. Dit is in hierdie stadium nog onduidelik of Oscar by sy ouma se begrafnis gaan wees.