Oscar Pistorius se ouma aan moederskant is Donderdagoggend in die ouderdom van 93 oorlede.

Oscar, wat tronkstraf uitdien weens die moord op sy vriendin, Reeva Steenkamp, weet van sy ouma Joyce Bekker se dood.

Joyce is die ma van Oscar, Carl en Aimée se ma, Sheila. Sy is oorlede aan komplikasies wat met hoë ouderdom te doen het.

Hul ma was ’n sterk vrou. Sy het soveel liefde in haar gehad, soveel grasie en krag

Oscar, Carl en Aimée het wonderlike rolmodelle in hul lewe gehad, sê die bron. Daar was hul eie ma, van wie al drie net die mooiste woorde te sê het, sê die bron. Sheila en hul pa, Henke Pistorius, is geskei toe Oscar ses jaar oud was. Sheila is nege jaar later dood nadat hepatitis verkeerdelik by haar gediagnoseer is.

Dan was daar hul ouma aan vaderskant, Gerti Pistorius, of Oumi soos hulle haar genoem het, wat einde verlede jaar in die ouderdom van 92 oorlede is. 

Aimee by hul ouma Joyce (links) en Oumi (regs). Foto verskaf

Ouma Joyce is in Engeland gebore. Sy het haar man, Leonard Arnoldus Bekker, in Kenia ontmoet waar Sheila later gebore is. Die gesin het toe na Suid-Afrika geëmigreer.

Leonard Arnoldus, na wie Oscar genoem is, is sowat vyf jaar gelede in die ouderdom van 90 oorlede. Ouma Joyce het die laaste paar jaar in Bryanston, Johannesburg gewoon.

Volgens die bron was ouma Joyce, nes hul ma en ouma Gerti, vir Carl, Oscar en Aimée ’n rots deur die jare.

“Hul ma was ’n sterk vrou. Sy het soveel liefde in haar gehad, soveel grasie en krag.

“Hul oumie was dieselfde. Net so hul ouma Joyce. Almal was pragtig, met ’n gees dat hulle deur enigiets kan kom. 

“Ouma Joyce was ’n merkwaardige vrou. Sy het ’n ongelooflike humorsin gehad.

“Die kinders het formidabele vroue in hul lewe gehad. Besondere sterk vroue. Die kinders is almal hartseer, maar dankbaar dat hulle die voorreg gehad het om sulke vroue as rolmodelle te kon hê.”

Al grootouer wat Oscar en sy sibbes nog oor het, is hul oupa Hendrik Pistorius wat einde van die maand 100 jaar oud word.