Die voormalige Mej. Heelal Margaret Gardiner het in die sosiale media aangekondig haar ma, Dawn (86), is oorlede.

[caption id="attachment_149265" align="alignnone" width="600"]Margaret Gardiner (Foto: Misha Jordaan) Margaret Gardiner (Foto: Misha Jordaan)[/caption] “Aan die ma wat ek liefgehad het: Geen woorde kan die verlies beskryf nie,” het Margaret in ’n roerende huldeblyk aan haar ma op Facebook geskryf. “Jou gees leef voort deur die mense wie se lewe jy geraak het. Jou heengaan gaan ’n leemte laat, maar daardie leemte sal gevul word deur die liefdevolle herinnerings van die indrukwekkende vrou wat jy was.” Haar ma was ’n ruk siek, vertel Margaret, deesdae ’n vermaakjoernalis in Hollywood.

“Ek het verlede Kersfees wakker geword met die nuus dat my ma ’n beroerte gehad het en in die waakeenheid is,” vertel Margaret, wat in Los Angeles woon, aan ons. “Ek het dieselfde dag Kaap toe gevlieg.

“Sy was verlam en kon nie praat nie en was nie heeltemal bewus van wat aangaan nie. Sy was vasgevang in ’n liggaam wat nie wou saamwerk nie. In ’n jaar waar ander dalk bitter sou word, het sy ’n sin vir humor behou, ontembare wilskrag en krag gehad en was sy vasbeslote om beter te word.”

Met wilskrag kon sy later ’n paar woorde baasraak. “Sy het die mense wat haar ontmoet het, laat lag en hulle was lief vir haar.

“Ek het haar deur die jaar besoek en verlede maand hierheen gehaas toe dit lyk of sy ons dalk weer gaan verlaat.”

Haar ma het toe net verder verswak, vertel Margaret.

“Ek en my susters, Bev en Sandy, het in die donker ure en eindelose dae beurte gemaak om by haar te slaap tot sy weer stabiel was. Woorde kan nie beskryf hoe wreed dit was om te sien hoe sy terugveg nie. Vrydag omstreeks middernag het ek weer die oproep gekry. Ek het onmiddellik in ’n gevriesde, paniekbevange toestand huis toe gevlieg. Sy het gesterf terwyl ek onderweg was in Londen.

“Ek troos my daaraan dat sy nou in vrede rus. Sy was my inspirasie. Sy is so geliefd en word vreeslik gemis.”

Margaret se pa, Alfred, is in 2000 oorlede.

EKSTRA BRON: ROOIROSE.CO.ZA