Yusuf, die ouer broer van KSA se uitvoerende hoof, Haroon Lorgat, is Sondag in die ouderdom van 79 jaar in Port Elizabeth oorlede.

In sy leeftyd het hy heelwat vir sport gedoen, veral krieket en sokker, en was ook in die gemeenskap betrokke.

Hy was langer as 30 jaar ’n ervare sportadministrateur by die Oostelike Provinsie Krieketvereniging, die Suid-Afrikaanse Krieketraad, die Verenigde Krieketraad van Suid-Afrika, die Oostelike Provinsie Sportraad en die Nasionale Sportraad betrokke. 

Onder sy vele erkennings tel verering deur die Nasionale Sportraad in 1998 en ’n diensprys van die Internasionale Krieketraad in 2009. Hy was ook ’n lewenslange lid van Oostelike Provinsie Krieket.

Op gemeenskapsvlak het hy as ’n projekbestuurder in die Microprojects Programme Trust gedien wat gemeenskapsorganisasies met verskeie projekte op tegniese en maatskaplike vlak bygestaan het.

Hy is in 2012 tot Port Elizabeth se Burger van die Jaar verkies vir sy gemeenskapsuitreiking-en-ontwikkelingprogam en het in 2014 ’n Nelson Mandela- nasionale prys ontvang.

Twee weke gelede het hy die Lewende Legende-prys van die Nelson Mandelabaai-munisipaliteit ontvang. 

“Yusuf het ’n lewe van diens aan sy gemeenskap gelei op baie gebiede wat gedokumenteer is deur die vele welverdiende pryse wat hy van ’n verskeidenheid organisasies ontvang het,” het Chris Nenzani, die president van die KSA, gesê.

“Namens die KSA-familie bied ek ons innige medelye en simpatie aan sy familie, vriende en die baie mense wie se lewe hy op ’n baie spesiale manier geraak en beïnvloed het.”

Hy word oorleef deur sy vrou, twee seuns en ’n dogter, asook sy twee susters en drie broers, van wie Haroon een is.

“Omdat hy baie ouer as ek was, het baie mense gedink hy was my pa, en hy het inderdaad iets van ’n pa-figuur vir my geword,” het Haroon gesê. “Ek het geweldig voordeel getrek uit sy raad oor hoe om my lewe te lei, veral in daardie dae van struggle.”

Bron: Sport24