Die cockerspanjoel, wat die sangeres en TV-aanbieder Amor Vittone destyds saam met haar vervreemde man, die Bokheld Joost van der Westhuizen, gekoop het, is Donderdagoggend dood.

“Cleo was al die afgelope jaar blind, heeltyd siek en het gehuil van die pyn,” vertel ’n hartseer Amor oor haar geliefde hondekind.

“Ek het hom so maand gelede by die veearts gehad waar die vog in sy ore gedreineer is en sy infeksie met antibiotika behandel is.”

Woensdagaand het Cleo, wat 16 jaar oud was, weer heelaand deur gehuil van die pyn. Toe Amor hom vanoggend veearts toe vat het die dokter gesê antibiotika of ’n operasie is nie meer die antwoord nie.

“Sy lewensgehalte het net slegter geword. Hy was te oud en kon nie meer hoor of sien nie, het die heeltyd gekwyl en in alles vasgeloop.”

Amor, wat tans as Zelda in 7de Laan te sien is, sê dit was vir haar die seerste besluit om hom eerder te laat uitsit.

Wat haar veral hard tref, is dat dit die hond is wat sy en Joost destyds gekoop het toe hulle verloof geraak het.

“Ons het nog die aand uitgegaan en Nando's gaan koop. In die winkelsentrum waar ons was, was daar ook ’n troeteldierwinkel en ’n hondjie van ses of tien weke wat die heeltyd vir my gekyk het. Ek kon nie sonder hom huis toe gaan nie.

“Ons is toe daar weg met vier hamburgers en ’n hond (wat toe Cleo gedoop is).

“My ma was nog daardie tyd so bekommerd omdat ons toe nog nie ’n huis gehad het nie,” onthou Amor. Hy was soos my klein seuntjie wanneer Joost destyds weg was vir rugby.

“Hy was die soort hond wat jou aan die arm sou uittrek as jy in die swembad val. Hy het daardie reddingstipe-persoonlikheid gehad.

“In my kop is daar definitief honde wat meer welwillend en sag as mense is. Ek glo daar is ’n dierehemel vir Cleo.”