Die soektog na Carl van Rooyen (54) wat Saterdagoggend naby Clanwilliam as vermis aangemeld is, het Dinsdag tragies tot ’n einde gekom.

In ’n verklaring wat laat Dinsdagaand deur die polisie van Clanwilliam uitgereik is, word aangedui dat Carl se liggaam in die rivier by Pampoendrift, Clanwilliam gevind is.

Carl is Saterdagoggend vir die laaste keer gesien toe hy op ’n staptog na die Bulshoekdam naby Clanwilliam vertrek het. Sy ouers, Wendy van Rooyen (77) en pa Carl Snr van Rooyen(78) het ook tevergeefs op goeie nuus gewag.

Carl se twee seuns, Christopher (wat uit Irak terug na SA gevlieg het) en Alistair het aan die soektog na hul pa deelgeneem.

Maandag is die aanvanklike soektog uitgebrei na Lambertsbaai, Graafwater, Laaiplek en Doringbaai. Maar teen Dinsdagoggend het die familie aangedui dat hul reeds hulself op die ergste begin voorberei.

Almal wat deel gevorm het van die uitgebreide soektog word bedank en daar word versoek om die familie in hul tyd van hartseer en afskeid te respekteer.

Ons innige simpatie aan sy familie en vriende met die verlies.