[caption id="attachment_165813" align="alignnone" width="600"]Ahmed Kathrada (Foto: Gallo Images) Ahmed Kathrada (Foto: Gallo Images)[/caption]

Die Ahmed Kathrada-stigting het met leedwese aangekondig die ANC-veteraan het in die ouderdom van 87 by die Donald Gordon-hospitaal in Johannesburg gesterf.

Volgens die stigting is Kathrada ná ’n kort siekbed oorlede nadat hy ’n breinoperasie ondergaan het.

Neeshan Balton, uitvoerende direkteur van die Ahmed Kathrada-stigting, het bevestig die anti-apartheid veteraan “het vandag sy laaste asem uitgeblaas”.

Kathrada was saam met Denis Goldberg en Andrew Mlangeni een van die drie laaste oorlewende Rivonia-verhoordes.

Hy het 26 jaar in en drie maande tronkstraf uitgedien as politieke gevangene en 18 hiervan was op Robben Eiland onder andere saam met oudpres. Nelson Mandela.

Die voorsitter van die Kathrada-stigting, Derek Hanekom, was oorweldig deur emosie toe hy vertel hy het ’n “revolusionêre mentor en ’n geliefde vriend verloor”.

“Comrade Kathy was ’n teer, menslike en nederige siel. Hy was ’n vasberade revolusionêr wat sy hele lewe aan die vryheidstryd in ons land gewy het,” het hy bygevoeg.

Kathrada was vir 75 jaar ’n aktivis wat hom veral beywer het om nie-rassigheid te bevorder. In 2008 is die Ahmed Kathrada-stigting op die been gebring om juis dit te doen. Die organisasie beywer hom vir Grondwetlike reg, menseregte, jeugleierskap en -ontwikkeling en om rassisme uit te daag en om die behoud van vryheidsgeskiedenis.

Kathrada gaan volgens Moslem-praktyk te ruste gelê word. Die besonderhede hiervan moet nog bekend gemaak word. Hy word oorleef deur sy vrou, Barbara Hogan – ook ’n ANC-veteraan.