James Bond van die 1970’s en vroeë 1980’s is oorlede.

Die akteur sir Roger Moore, wat die rol van James Bond in flieks soos Live and Let Die, For Your Eyes Only en Octopussy vertolk het, het Dinsdag gesterf.

Sy familie het sy dood in ’n verklaring op al Moore se amptelike sosialemedia-platforms bevestig. “Dit is met ’n swaar hart dat ons moet aankondig dat ons pa in Switserland gesterf het ná ’n kort maar dapper stryd teen kanker,” lui die verklaring. “Die liefde wat hom in sy laaste dae omvou het, kan nie in woorde beskryf word nie.”

Die akteur was 89 jaar oud.

“Dankie dat Pa Pa was en dat Pa so spesiaal was vir baie mense,” het sy kinders, Deborah, Geoffrey en Christian, in die kort verklaring geskryf.

’n Privaat begrafnis gaan luidens die verklaring in Monaco gehou word.